Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Oscar Pistorius
Broers sê dié foto’s is nuwe ‘getuienis’
Oscar Pistorius is nie onder kruisverhoor uitgevra oor dié ingeduikte metaalplaat in die badkamer nie, maar die skrywers glo dié plaat is deur die krieketkolf ingeslaan. Foto: SAPD
Die gaatjie van 4,5 mm – die deursnee van ’n windbukskoeël – aan die binnekant van die slaapkamerdeur getuig dat ’n vinnig bewegende projektiel dwarsdeur die hout is, sê die Molletts. Foto: SAPD
Die skeur in die swart moulose frokkie wat Reeva Steenkamp met haar aankoms by die huis van Oscar Pistorius en ten tyde van haar dood aangehad het. Foto: SAPD
Die skraap deur die lang rooikleurige spatsel, wat volgens die Molletts moontlik bloed is, op die krieketkolf gevind in die badkamer. Foto: SAPD
Die opspraakwekkende bewerings van die Mollett-broers in hul boek, ­Oscar vs The Truth, is kwaai deur Oscar Pistorius se familie gekritiseer. Foto: SAPD
Thomas Mollett, ’n amateur- forensiese ondersoeker en sy broer, Calvin, het ook ’n boek oor die Inge Lotz-moordsaak geskryf. Foto: Leanne Stander

Twee amateur- forensiese ondersoekers meen hulle kan nuwe lig werp op wat “regtig” gebeur het meer as drie jaar gelede op die aand waarop Oscar Pistorius sy meisie Reeva Steenkamp geskiet het.

Thomas en Calvin Mollett, twee broers wat ook ’n boek oor die Inge Lotz-saak geskryf het, sê nadat hulle die moorddossier, alle foto’s van die misdaadtoneel en sleutelgetuies se verklarings deeglik ontleed het, kan hulle nou lig werp op ’n hele paar “onbeantwoorde vrae” van die hofsaak.

In hul boek Oscar vs The Truth wat die broers self uitgegee het, maak die twee ook opspraakwekkende onthullings oor details van die saak wat nooit in die hof ter sprake gekom het nie.

Die Pistorius-familie sê egter die Molletts se bewerings is ­verregaande.

Die familie se woordvoerder, Anneliese Burgess, sê die Molletts herhaal bloot ou gissinge van huishoudelike geweld waarvan die saadjies reeds op die oggend van die tragiese gebeure deur die owerhede gesaai is.

“Die verhoorregter het bevind daar is geen bewys wat die teorie (van huishoudelike geweld tussen die paartjie) steun nie.

“In die appèlhof het die staatsaanklaer self toegegee dat hy die teorie van ’n argument tussen die twee laat vaar het,” sê Burgess in ’n verklaring.

Pistorius het in die strafsaak getuig dat hy die nag van 13 op 14 Februarie 2013 wakker geskrik het van ’n geraas in die badkamer en gedink het daar is ’n ­inbreker in die huis.

Hy het ondersoek ingestel en uit selfverdediging op ’n toe ­toiletdeur gevuur.

Toe hy die deur met ’n krieketkolf oopslaan, het hy die ernstig gewonde Steenkamp op die vloer aangetref.

Pistorius is aanvanklik deur regter Thokozile Masipa aan manslag skuldig bevind en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

Die staat het appèl aangeteken, en in Desember verlede jaar het die appèlhof by monde van Eric ­Leach bevind dat Pistorius aan moord skuldig is omdat hy moes voorsien het dat sy optrede tot die dood van ’n persoon kon lei.

In hul boek verskaf die Molletts onder meer details oor:

  • ’n Erg beskadigde staalplaat aan die kant van die bad wat die gat bedek wat toegang gee tot die waterpype en riooluitlaat. Dié plaat is kwaai ingeduik en die Molletts voer aan dat dié skade moontlik aangerig kon gewees het deur die plaat met ’n krieketkolf te slaan.
  • ’n Gaatjie in die slaapkamerdeur, 4 mm in deursnee, volgens hulle gemaak deur ’n windbukskoeël. Hulle merk ook op een van die polisiefoto’s dat ’n windbuks buite die kamer teen ’n muur staan.
  • Die swart moulose frokkie wat Reeva met haar aankoms by Pistorius se veiligheidskompleks gedra het. Dit is dieselfde kledingstuk waarin sy blykbaar gaan slaap het en wat sy aangehad het toe sy geskiet is.

Die Molletts maak groot gewag van ’n klein winkelhaakskeur in die frokkie en beweer dit stem nie ooreen met enige van die koeëlwonde aan haar lyf nie.

  • Rooi spatsels, wat dalk bloed kan wees, op die krieketkolf. Die Molletts meen dat ’n skraap wat dwarsoor een van die spatsels gesien kan word daarop dui dat die bloed op die kolf gespat het voordat dit gebruik is om die toiletdeur stukkend te slaan.

Burgess sê in die verklaring die Molletts het geen nuwe bewyse opgediep nie.

“Elke foto en elke greintjie bewysstuk is in die intensiewe 43 dae lange verhoor gedissekteer.

“Dit is totaal absurd om te beweer dat die aanklaer enige bewysstuk sou miskyk wat sou kon bewys dat Oscar sy krieketkolf vir enigiets anders gebruik het as om die deur oop te breek.

“Dit is natuurlik hoogs gerieflik vir die twee leunstoelspeurders om sensasionele onsinteorieë te versin wat hulle nooit in ’n hof hoef te bewys of aan kruisondervraging hoef te onderwerp nie.”

Thomas Mollett sê gister dit is betreurenswaardig dat die hof nie die volle omvang van die oorledene se beserings gewys
is nie.

Hy sê dit is ook jammer dat die regter nie die moordtoneel self besoek het nie.

Hy het sy kritici uitgedaag om met feitelike teenargumente te kom en ook eers die skrywers se argumente in die konteks van die groter argument te beskou, eerder as om hulle te beledig en name te noem.

  • Pistorius se vonnisoplegging begin op 13 Junie.

julian.jansen@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.