Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
#OscarPistorius
Oscar se psigiater herstel ná hartaanval
Oscar Pistorius in Mei in sy moordverhoor in die hooggeregshof in Pretoria. Hy hoor Maandag of hy verder verhoor sal word nadat hy vir psigiatriese waarneming verwys is. Foto: The Times

JOHANNESBURG. – Een van die psigiaters wat Oscar Pistorius vir 30 dae in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal waargeneem het, het ’n hartaanval gehad.

Dit is nie duidelik of die dokter se ongesteldheid die indiening van die psigiatriese verslae oor die lemnaeler gaan vertraag nie.

Die verslae is veronderstel om Maandag, wanneer die saak in die hooggeregshof in Pretoria hervat, amptelik by die hof ingedien te word.

Dr. Leon Fine, ’n psigiater van Johannesburg, het Donderdag ’n hartaanval gehad, maar is gisteroggend reeds uit die hospitaal ontslaan, het sy vrou, Evelyn, gistermiddag by hul huis in Johannesburg gesê. “Hy’s oukei. Hy sterk tuis aan.”

Die verslae oor Pistorius sou gister van Weskoppies na die hooggeregshof in Pretoria gestuur word.

Dit het toe aan die lig gekom Fine het ’n hartaanval gehad.

’n Paneel van drie psigiaters en ’n kliniese sielkundige het Pistorius vir 30 dae psigiatries waargeneem om onder meer vas te stel of hy volgens sy begrip van reg en verkeerd kon handel toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie verlede jaar doodgeskiet het.

Hy moes hom op 26 Mei by Weskoppies aanmeld en moes daarna vir 30 dae elke dag van 09:00 tot 16:00 as buitepasiënt daar deurbring.

Die ander lede van die paneel was prof. Herman Walter Pretorius, ook ’n psigiater, prof. Jonathan Scholtz, ’n kliniese sielkundige, en dan ook die superintendent van Weskoppies of iemand wat deur hom of haar aangewys word.

Adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, het in Mei ’n aansoek ingedien dat Pistorius vir psigiatriese waarneming verwys word.

Adv. Barry Roux, wat Pistorius se regspan lei, het die aansoek heftig teengestaan, maar regter Thokozile Masipa het dit toegestaan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.