Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ou Gereformeerde kerk in Bloemfontein afgebreek
Die ou Gereformeerde kerk Bloemfontein in Wes-Burgerstraat word nou gesloop. Die kerk is drie jaar gelede aan die Nic Georgiou-trust verkoop. Foto: Mlungisi Louw
Die ou Gereformeerde kerk Bloemfontein in Wes-Burgerstraat word nou gesloop. Die kerk is drie jaar gelede aan die Nic Georgiou-trust verkoop. Foto: Mlungisi Louw

’n Eertydse Bloemfonteinse baken in Wes-Burgerstraat word platgeslaan.

Die ou Gereformeerde kerk Bloemfontein, wat in 2012 aan die Nic Georgiou-trust verkoop is, word nou gesloop.

Die kerkgebou wat 88 jaar lank bestaan, is weens ’n dalende lidmaattal van meer as 400 lidmate tot slegs 64 verkoop.

“Dit is ’n skok. Breek hulle hom dan nou regtig af?” was ds. Piet Lourens, die gemeente se laaste predikant, se reaksie op die nuus.

Lourens, wat 13 jaar by die kerk betrokke was, het gesê daar was in elk geval nie plek vir die Gereformeerde Kerk se bediening in die stad nie.

“Die Tweetoringkerk vervul die rol reeds en doen uitstekende werk.”

Die inhoud van die kerk is met ander kerke gedeel toe dit drie jaar gelede verkoop is.

Die Gereformeerde kerk Oranjerivier in Orania het die pyporrel en die klok gekry en die Eden-kerk (Keurboomsrivier en Knysna) het die preekstoel en ronde Nagmaaltafels oorgeneem. Die kerkbanke en ander tafels is tussen dié kerk, asook kerke in Botshabelo en Phahameng, verdeel. Die hoekstene het na die Bloempark-kerk in Fichardtpark gegaan en die boekery word nou in die Gereformeerde Kerk se argief in Potchefstroom bewaar.

Lourens sê dit is vir hom bitter sleg dat die kerk platgeslaan word, maar ’n mens moet positief oor die ontwikkeling in die stad wees.

“As dit nie vir die Griek (Georgiou) was nie, was die stad in ’n chaos. Dit is vir my sleg, maar ek het juis verlede week in ’n foto gesien die vensterruite word baie mooi uitgehaal.”

Die gemeente het ’n tyd lank in die Lutherse Kerk-gebou in Cachetstraat kerk gehou, maar het later ontbind.

“Ons moet onthou die kerk was nie die gemeente nie, maar net die gebou. Die lewe gaan altyd voort en ontwikkeling is onvermydelik,” sê Lourens.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.