Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Derde Wêreldoorlog in memes en losprys vir Trump

Amerika het Vrydag skaars aangekondig dat hy Iran se genl. Kassem Soleimani in ’n lugaanval in Irak doodgemaak het of sosialemediagebruikers wêreldwyd het die Derde Wêreldoorlog met memes begin voorspel.

Sosialemediagebruikers het reeds aan die Derde Wêreldoorlog begin beplan. Foto: Reddit

Die spanning tussen die VSA en Iran loop sedert Vrydag hoog nadat Amerika die lugaanval op Bagdad geloods het en die dood van sewe mense veroorsaak het.

Iran se regering het wraak gesweer teen Amerika, waarna pres. Donald Trump gedreig het dat sy land met mag sal terugslaan as Iran dit durf waag.

Intussen berig verskeie nuusagentskappe dat Iran ’n losprys op Trump se kop geplaas het. ’n Onbekende man wat op een van die herdenkingsdienste vir Soleimani ’n huldeblyk gelewer het, het terselfdertyd ’n beroep op Iraniërs gedoen om elk $1 te skenk om ’n losprys van $80 miljoen vir die beoogde moord op Trump in te samel. ’n Video van die versoek is wyd gedeel.

Pres. Donald Trump van Amerika Foto: Getty Images

Luidens berigte in die Iranse media het die man gesê daar is 80 miljoen Iraniërs en genoeg geld sal ingesamel kan word as almal ’n bydrae lewer.

Dié herdenkingsdiens is regstreeks op ’n plaaslike televisiekanaal uitgesaai.

Die Amerikaanse komediant George Lopez het nie op hom laat wag nie en ’n Twitter-toonaangewer geraak nadat hy getwiet het dat hy vir die helfte van die geld van Trump ontslae sal raak, berig The Washington Post.

’n Oorlog in memes

Sosialemediagebruikers het vinnig gereageer en sedert Vrydag het die memes op verskeie sosialemediakanale soos Reddit, 9Gag, Imgur, Twitter en Instagram ingestroom.

Die moontlikheid van ’n derde wêreldoorlog het die onderwerp van die memes op Twitter geword.

’n Nuwe dekade bring ’n nuwe Wêreldoorlog, meen sosialemediagebruikers. Foto: Reddit

Volgens die webwerf Get Day Trends was die lugaanval wêreldwyd onder die top-drie-onderwerpe wat op 3 Januarie (die dag van die aanval) toonaangewend onder Twitterati was. ’n “Trend” word bepaal deur die aantal twiets en hoe vinnig dit die ronde doen.

Op dié dag is 2,2 miljoen twiets met die hutsmerk #Iran gestuur, 220 300 twiets met #WorldWarIII en 2 miljoen twiets met #WorldWar3.

Sosialemediagebruikers het reeds aan verskonings begin dink oor hoekom hulle nie vir hul land sal kan veg nie. Foto: Reddit

Talle memes oor die moontlikheid dat gewone landsburgers oorlog toe gestuur kan word, het vinnig op die verskeie platforms opspraak verwek, terwyl ander gebruikers Duitsland in van die memes begin teiken het – net om te besef dat dit dan ’n wêreldoorlog sal wees wat nie voor die Duitsers se deur gelê kan word nie.

Ander gebruikers het die spot gedryf omdat Duitsland nie by hierdie oorlog betrek word nie. Foto: Reddit

Dié memes is vinnig beantwoord deur ’n Twitter-boodskap waarin @ssg_burns sê Amerikaners is te vet om oorlog toe te gaan.

“Niemand van julle sal opgeroep word nie . . . 99% van julle is oorgewig, op dwelms, het nie graad nie, kan nie skiet nie, kan nie hardloop nie en het nie ’n greintjie onbaatsugtigheid nie. Ontspan. Jou land sal nie verwag dat jy hom moet beskerm nie,” lui die twiet.

’n Twitter-boodskap waarin Amerikaners gerusgestel word dat hulle nie opgeroep sal word nie. Dit het op verskeie sosialemediaplatforms die ronde begin doen nadat dit in ’n meme verander is. Foto: Twitter

Ander gebruikers het ’n meme van ’n nar saam met soldate gedeel, wat lui: “Julle ouens is dom . . . die vyand gaan weermag-ouens soek.” ’n Meme van hoe uitgesluit

’n Reddit-gebruiker sê hy sal soos ’n nar aantrek as hy opgeroep word omdat die vyand soldate sal verwag. Foto: Reddit

Noord-Korea voel, is ook wyd gedeel.

Dié meme is ’n verwysing na die spanning tussen Amerika en Noord-Korea wat in Desember opgebou het nadat Noord-Korea gedreig het om vir die VSA ’n “Kersgeskenk” te stuur omdat hy nie sy sanksies wil ophef nie.

Sosialemediagebruikers meen Noord-Korea voel afgeskeep omdat Iran al die aandag kry. Foto: Reddit

Die koningin het al alles gesien

Ander gebruikers het foto’s gedeel van koningin Elizabeth van Brittanje, wat reeds aan wêreldoorloë “gewoond” is. Ander gebruikers meen die nuwe dekade het sommer met ’n wêreldoorlog begin.

Talle meen koningin Elizabeth van Brittanje is nie van stryk gebring nie. Foto: Reddit

Die spanning tussen Amerika en Iran was Maandag nog hoog nadat Trump herbevestig het dat Amerika slaggereed is om Iran aan te val.

Die Irakse parlement het intussen ’n beroep gedoen op Amerikaanse troepe om uit die land pad te gee, maar Trump weier.

“Ons het ’n uitsonderlike duur lugmagbasis daar gebou. Dit het ons miljarde dollar gekos en ons sal nie padgee totdat hulle ons daarvoor terugbetaal nie,” het Trump oor Irak se versoek gesê.

Pas ná Irak se versoek dat Amerikaanse troepe daar padgee, het Trump ook gedreig om sanksies teen die land in te stel.

Die jaar het so belowend gelyk . . . tot 3 Januarie. Foto: Reddit

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Irak  |  Iran  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.