Wat ’n soen tussen die bruid en die bruidegom moes wees, het in totale chaos geëindig toe die bruidegom se eksmeisie – volledig geklee in ’n trourok – instorm en hom op haar knieë smeek om haar terug te vat.
Die video van dié petalje in China is intussen wild en wakker op sosiale media versprei.
Op die video skreeu die emosionele eksmeisie “dit was my fout” en kniel voor die bruidegom, terwyl die eintlike bruid van die dag geskok toekyk.
Die bruidegom het glo sy verhouding met die eksmeisie verbreek omdat “hul persoonlikhede nie ooreengestem het nie”, het Star Video, geaffilieer met die Hunan Legal Channel, aan Daily Mail gesê.
Met sy eksmeisie in haar trourok op haar knieë voor hom, probeer die bruidegom sy bruid troos, maar sy pluk sy hande van haar af terwyl die eksmeisie hom aan sy baadjie na haar toe trek.
Die bruid storm dan van die verhoog af.
’n Verbouereerde seremoniemeester probeer tevergeefs die gemoedere kalmeer deur ’n bekende Chinese spreuk aan te haal: “As jy die lewe vra wat liefde is, dan is dit om jou lewe toe te wy aan iemand anders”, berig Metro.
Webgebruikers van Weibo, die Chinese Twitter, het almal die bruid se kant gekies. Een het geskryf: “Dit is nou presies die rede waarom jy nie vriende met ’n eks kan bly nie.”
Kyk na die video hier: