Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Gesoek: Vis met trouring om lyf

Praat van strop om die nek – iewers aan die kus van Australië swem ’n vis rond met ’n goue troupand om sy lyf.

En nou word ’n plan beraam om hom hiervan te verlos.

Dié verhaal begin in Desember toe Nathan Reeves en sy vrou, Suzie Quintal, van die Goudkus in Australië in Emilybaai op Northfolk-eiland gaan swem en sy trouring van sy vinger afgeval het.

Susan Prior het dié foto geneem van die harder wat met die goue trouring rondswem. Foto: norfolkislandreef

Emilybaai is ’n taamlik beskutte strand op die eiland wat 1 600 km noordoos van Sydney in die Stille Oseaan geleë is.

Hulle het al die moontlike gedoen om die ring op te spoor, maar moes ná hul vakansie onverrigter sake terugkeer huis toe.

Susan Prior, ’n inwoner van die eiland, het Maandag in die baai gesnorkel toe sy ’n klein harder met die goue ring om sy lyf sien swem.

Prior het aan Newsweek gesê sy het gemeen die ring kan waardevol wees. Sy was bewus van die man wat ’n paar maande vroeër sy trouring verloor het, en het ’n boodskap op die Facebook-blad Norfolk Island Community Classifieds  geplaas om die eienaar op te spoor. Reeves het juis op dié Facebook-blad sy lot bekla en mense gevra om op die uitkyk te wees vir sy trouring.

Prior wil ’n “vispedisie” reël om die arme vis te verlos en Reeves se ring aan hom terug te besorg.

Dié harder swem met ’n plastiekring om sy lyf rond. Rommel wat in die see beland, is ’n reuseprobleem vir mariene lewe. Foto: norfolkislandreef

Sy sê dit lyk nie asof die harder op die oomblik te veel sukkel nie, maar namate hy groei, gaan die ring in sy lyf insny.

Sy meen ’n hele span is nodig om die harder in ’n net te vang sodat die ring versigtig verwyder kan word. Sy het egter nie gesê wanneer dit sal gebeur nie.

Prior skryf in ’n blog op die blad Norfolk Island’s Reef dis nie ongewoon om visse te sien wat in plastiekringe – soos dié om melkbottels se proppe – verstrengel is nie. “Ons het nou ’n arme harder wat deur iemand se (duur) goue trouring afgetrek word,” skryf sy.

Dis ’n ernstige saak, maar dit het nie ’n inwoner van die eiland gekeer om ’n The Lord of The Rings-grappie te maak nie.

“Precious . . . Miskien kan Peter Jackson kom en ’n fliek maak. Lord of the Mullet. Jy moet lag,” skryf Prior in die blog. –  Daily Mail

Meer oor:  Australië  |  Gesoek  |  Vis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.