Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Is Kimberleyse hoendereier ’n SA rekord?
Die bielie van ’n hoendereier wat in Kimberley deur ’n Lohmann-bruinhen gelê is met ’n standaardhoendereier langsaan. Foto: Adriaan Gerber

Daar’s ’n hoenderhen van Kimberley wat ’n bielie van ’n eier kan lê!

’n Jaar en twee maande oue Lohmann-bruinhen van die Epoch-pluimveeplaas net buite Kimberley in die Noord-Kaap het Dinsdag ’n eier van 137,51 g gelê.

Dit verdwerg die 120 g-hoendereier wat in Februarie deur een van Ruben Arnold Kruger, ’n hoenderboer van Brandfort in die Vrystaat, se henne gelê is.

Adriaan Gerber, wat boer saam met sy pa, Barry, eienaar van die Epoch-pluimveeplaas, sê hulle was stomgeslaan toe een van die werknemers, Lloyd Manie, met sy spesiale vonds by die kantoor instap.

“Lloyd het die eier op sy eie eierbakkie aangedra. Ons oë het nog groter gerek toe ons dit op die skaal plaas en dit op ’n hele 137,51 g inweeg,” sê Adriaan.

Barry boer al sowat 30 jaar met hoenders en die plaas verskaf sowat 1 000 kaste eiers per week aan Kimberley en omliggende dorpe.

Hulle boer met twee soorte hoenders, die Lohmann-bruin en Lohmann-Hyline-silwer, juis omdat dié hoenders lekker groot eiers lê.

Adriaan sê dit is nie ongewoon dat jong henne wat pas begin eiers produseer soms groot eiers of eiers met abnormale vorms lê nie. Dié eier is egter buitengewoon groot.

“ ’n Normale hoendereier weeg sowat 51 g. Die wêreldrekord vir ’n hoendereier is 454 g, maar ek dink daardie arme hoender moes ontplof het,” sê hy.

Die bielie van ’n hoendereier het op 137,5 g ingeweeg. Foto: Adriaan Gerber

Hy vermoed die eier wat Dinsdag deur Manie gevind is, kan dalk net die rekordhouer in Suid-Afrika wees.

“Ek het nog nêrens elders van so ’n bielie in Suid-Afrika gelees nie.”

Dit was ook nie die enigste verrassing wat die eier ingehou het nie.

Toe die Gerbers die eier dreineer, het hulle agtergekom dit is ’n trippeldoor.

Hy sê wat die eier nog meer besonders maak, is dat die dop baie sterk en reg gevorm was.

“Gewoonlik wanneer die henne sulke groot eiers lê, weet ons baiekeer nie daarvan nie, want die eiers breek weens die dun dop of dit is misvorm, maar dié eier was perfek. Ek wens elke eier kon so lyk.”

Die eierdop het nou ’n ereplek in Barry se kantoor.

“Dit staan nou soos ’n aandenking of ’n standbeeldjie in my pa se kantoor, want hy sê nou kan almal sien wie die grootste eiers in Kimberley het,” skaterlag Adriaan.

Meer oor:  Epoch-Pluimveeplaas  |  Hoendereier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.