Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Kat ‘verklap geheime’ ná trauma van inbraak

Dit is al twee weke sedert ’n polisielid in Kaapstad glo die foon neergesit het in die oor van ’n vrou wat om hulp gesmeek het omdat sy gemeen het daar is ’n inbreker in haar huis.

Die familie se kat is sedert die inbraak by hulle getraumatiseerd. Foto: Verskaf

Nou blyk dit dat die huiskat erg getraumatiseer is deur die gebeure.

Die 23-jarige vrou, wat uit vrees vir haar lewe anoniem wil bly, was saam met die kat en haar dowe hond in haar kamer toe sy besef daar is ’n inbreker in hul huis in Table View, Kaapstad, wat sy saam met haar ma en suster deel.

Dié twee was al vroegdag werk toe en die vrou en die diere was alleen in die huis.

Die kat het gemiaau toe sy besef daar is iemand in die huis, maar omdat die hond doof is, kon hy niks doen nie.

Die vrou het die polisie se 10111-noodnommer gebel en fluisterend om hulp gesmeek, maar die foon het in haar oor doodgegaan.

Sy het die noodnommer weer gebel en weer om hulp gesmeek nadat sy voetstappe gehoor en ’n skaduwee in die huis gesien het.

Die suster het aan Netwerk24 gesê hul kat is sedertdien baie getraumatiseerd.

“Die kat het nou die dag uit die huis gehardloop toe ons huiswerker kom werk het. Dit het baie hard gereën, maar die kat het eerder buite in die reën gaan sit en miaau. Sy het geweier om in die huis te kom.”

Die suster sê hulle het die kat gaan haal, maar sy het weer die pad gevat toe sy die huiswerker sien.

“Dit was baie vreemd. Ons kat is nie so nie. En dit het weer gebeur toe ’n afleweringsbode na ons huis gekom het. Die kat het die man gesien en toe die pad gevat.”

Die familie se hond is doof en kon dus nie die inbreker hoor nie. Foto: Verskaf

Die suster sê hul huis is in die mark en elke keer wanneer iemand na die huis kom kyk, vat die kat die pad.

“Sy weier dan om terug te kom. Ons ken die kat glad nie so nie,” sê die suster.

Die hulp van Antjie Canning-Rogers van Suurbraak in Swellendam, ’n vrou wat met diere kommunikeer, is ingeroep en sy meen die kat is getraumatiseerd.

Sy het ’n foto van die kat gevra sodat sy ’n lesing kan doen en sê sy kon die kat se fisieke en emosionele gevoelens op die foto optel.

“Ek kan voel dat haar hart vinniger klop, haar spiere is styf, sy voel ’n bietjie naar en daar is ’n kneusplek aan haar regter-ribbes.”

Canning-Rogers sê emosioneel is die kat besig om vir haar lewe te vrees, sy ervaar angs, sy voel onveilig in haar huis, sy is desperaat en haar vertroue is geskend.

“Ek tel op dat sy baie van haar eienaar se emosies aangeneem het. Sy het vir haar lewe gevrees, sy het kwesbaar en onveilig gevoel.”

Canning-Rogers sê die kat het die persoon herken wat in die huis was.

“Die kat probeer haar mense-eienaar waarsku dat die persoon iemand is wat reeds vantevore in hul huis was. Haar eienaar ken die persoon wat in die huis was.

Antjie Canning-Rogers. Foto: Verskaf

“Die kat het iets geruik soos plastiek wat brand en dit is iets wat sy al tevore geruik en herken het. Dit is hoekom sy nou uit die huis loop wanneer sekere mense in die huis kom. Sy probeer wys dit is nie veilig in die huis nie,” sê Canning-Rogers.

Canning-Rogers meen die kat vertrou nou niemand behalwe haar mense-eienaar nie en dat die kat baie getraumatiseerd is ná die voorval.

Die suster het by navraag gesê dat hulle die moontlikheid bespreek het dat die inbreker wel vantevore in hul huis was.

“Die inbreker het by my ma se venster ingekom en skaars twee sekondes in haar kamer getalm. Hy het geweet waar die trap is en dit is taamlik moeilik om ons trap in die donker te vind,” sê die suster.

Canning-Rogers sê diere het met haar begin kommunikeer toe sy 10 jaar oud was.

Sy het verskeie diere-kursusse voltooi sodat sy kon leer hoe sy haar kuns kan verfyn en is ’n professionele dierekommunikeerder.

Canning-Rogers help graag om vermiste diere op te spoor. Sy kan met diere via ’n foto kommunikeer, wanneer sy hul oë duidelik kan sien.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ’n klag op 19 Julie ontvang het.

Die familie het ’n klag teen die 10111-operateur ingedien.

Meer oor:  Kaapstad  |  Kat  |  Inbraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.