Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Man eet hom dood aan droplekkers

Dit is moeilik om selfbeheersing aan die dag te lê as ’n mens eers ’n pak lekkers oopgemaak het – maar die meeste mense sal hulle darem nie letterlik dood eet daaraan nie.

Dit is egter wat ’n Amerikaanse konstruksiewerker verlede jaar reggekry het met droplekkers.

Die 54-jarige konstruksiewerker van Massachusetts het in die weke voor sy dood daagliks ’n pak en ’n half droplekkers geëet, berig AP News.

Luidens navorsing wat vandeesweek in die vaktydskrif The New England Journal of Medicine gepubliseer is, het die man “ ’n swak dieet gehad, wat hoofsaaklik uit pakke lekkers elke dag” bestaan het. Drie weke voor sy dood het hy van sagte lekkers met vrugtegeure oorgeskakel na droplekkers, wat glisirrisiensuur bevat, berig CNN.

Die konstruksiewerker, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het sy bewussyn verloor terwyl hy middagete in ’n kitskosrestaurant geëet het en is die volgende dag in die hospitaal dood.

Selfs klein hoeveelhede glisirrisiensuur kan ’n mens se bloeddruk verhoog.

droplekkers
Foto ter illustrasie.

Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) laat tot 3,1% glisirrisiensuur in kos toe, maar baie lekkergoedvervaardigers dui nie aan hoeveel daarvan per gram in hul produk is nie, berig The Guardian.

Jeff Beckman, ’n woordvoerder van die Hershey-maatskappy, wat ook droplekkers vervaardig, het in reaksie gesê hul produkte voldoen aan die FDA-regulasies.

Dokters het bevind dat die oorledene se kaliumvlakke baie laag was. Lae kaliumvlakke kan hoë bloeddruk veroorsaak, asook swelling, abnormale hartritmes en selfs hartversaking.

Veral mense ouer as 40 moet versigtig wees: Die FDA sê selfs net 56 g per dag oor ’n tydperk van twee weke kan ’n onreëlmatige hartklop veroorsaak en hospitalisasie noodsaak.

Die negatiewe uitwerking van te veel droplekkers is omkeerbaar wanneer mense ophou om soveel te eet. Volgens die navorsing kan normale kaliumvlakke binne sowat twee weke herstel wees.

• Die glisirrisiensuur kom voor in soethout, waarvan drop gemaak word. Sommige droplekkers word egter nie van soethout gemaak nie, maar bevat anysolie, wat ’n soortgelyke smaak het.




Meer oor:  Liquorice
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.