Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Pigcasso se ‘prins Harry-skildery’ haal blitsig R50 000

Suid-Afrika se talentvolste vark se jongste skildery was nie lank te koop voordat dit opgeraap is nie.

Dié skildery, glo ’n portret van prins Harry, is binne oomblikke vir R50 000 deur ’n Spaanse versamelaar gekoop. Dieselfde versamelaar het voorheen twee van Pigcasso, soos die vark bekend staan, se ander skilderye aangeskaf.

Pigcasso gebruik ’n verfkwas wat sy in haar bek vashou om te verf. Sy is vyf jaar gelede deur Joanne Lefson, nou Pigcasso se persoonlike assistent, gered “voordat sy spek kon word”.

Joanne Lefson saam met Pigcasso en haar ‘prins Harry-meesterstuk’. Foto: Verskaf

Sy bly nou by Farm Sanctuary SA in Franschhoek, wat na verwaarloosde diere omsien. Die opbrengs van haar skilderye is ten bate van Farm Sanctuary SA.

“Ons het eintlik gehoop Meghan sal dit vir Harry koop,” skerts Lefson.

Lefson sê sy het die skildery aanlyn aangebied en dit was nie lank voordat Patrick Reich van Spanje dit gekoop het nie.

“Patrick het verlede maand ook Pigcasso se duurste skildery tot dusver, Die pou van R80 000, aangekoop,” sê Lefson.

Reich sê hy is gaande oor Pigcasso se werk.

“Die manier hoe sy haar kleure gebruik, is fassinerend,” sê hy. “Sy is die beste kunstenaar in die wêreld.”

Pigcasso saam met haar duurste skildery nog, ‘Die pou’, wat vir R80 000 verkoop is. Foto: Verskaf
Pigcasso saam met een van haar ander skilderye, ‘Die Sneeuman’. Foto: Verskaf

Pigcasso het al meer as 250 oorspronklike werke geskilder.

“Sy is die eerste nie-menslike wese wat haar eie uitstalling by die Victoria & Alfred-waterfront gehad het,” sê Lefson. “Ons beplan ook vanjaar ’n internasionale uitstalling van haar werk.”

Pigcasso se eerste skildery is in 2017 vir R7 000 verkoop.

“Ek weet nie waar sy haar inspirasies vandaan kry nie,” sê sy. “Sy hou daarvan om op datum te bly met die nuutste gebeurtenisse en het die skildery van Harry op die dag van die Oprah-onderhoud geskilder. Miskien is Meghan volgende!”

Lefson meen Pigcasso is nie gepla oor roem nie en is ’n plat-op-die-aarde vark.

“Sy is die baas van die plaas. Ek hoop sy inspireer mense om vriendeliker met diere te wees – en om minder spek te eet!” skerts Lefson.

Meer oor:  Prins Harry  |  Skildery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.