Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Rondloper-luiperd kuier in mense se agterplaas

Toe Bogoshi Maloka (20) vroeër vandeesweek gerugte hoor van ’n rondloper-luiperd in sy tuisdorp, het hy dadelik soontoe gehardloop.

In die haas het dié inwoner van Klipgat, noord van Pretoria, boonop ook nog sy selfoon vergeet. Maar hy het sommer sy vriend s’n gebruik om die gedierte op kamera vas te vang, want dit is een van daardie oomblikke wat ’n foto verdien, het hy gemeen.

Dié volwasse luiperdmannetjie het onder ’n voertuig geskuil in die erf van ’n inwoner van Klipgat, noord van Pretoria.

Die volwasse luiperdmannetjie het rustig in ’n werf geloop toe hy Woensdag omstreeks 15:40 daar aankom.

“Ek was nie bang nie. Ek het nog nooit so ’n rustige luiperd gesien nie – hy was nie kwaai nie en het niemand gejaag nie,” sê Maloka.

Dit het hom laat wonder of die dier nie aan iemand in die omgewing behoort nie . . .

Die foto is deur Bogoshi Maloka (20) van Klipgat, noord van Pretoria, geneem kort nadat die veearts die jagluiperd met ’n pyl verdoof het.

Die polisie is gekontak wat gevolglik vir die Tshwane-dierebeskermingsvereniging (DBV) van die wilde dier in kennis gestel het.

Spoedig was die DBV saam met ’n veearts op die toneel waar die luiperd onder ’n ou verlate voertuig in die erf geskuil het.

“Die luiperd was skrikkerig en het onder die voertuig bly wegkruip. Daar was baie mense,” sê Dewald Wahlstrand, bestuurder van die DBV se Waltloo-tak.

“Hy was half verbouereerd en op sy hoede, so enige verkeerde stap van die publiek kon veroorsaak dat die luiperd hulle aanval.”

In net meer as ’n halfuur nadat die DBV van die voorval te hore gekom het, is die wilde dier met ’n pyl verdoof en gevang.

’n Groot klomp mense het saamgedrom toe daar ’n luiperd in ’n inwoner van Klipgat, noord van Pretoria, se erf was. Die polisie en die dierebeskermingsvereniging was saam met ’n veearts op die toneel. Foto: Twitter/Yusuf Abramjee

“Daarna is hy na die veearts se houhokke geneem waar sy toestand geëvalueer is en om te kyk of hy nie seergekry het nie,” sê Wahlstrand.

Hy sê die luiperd het uit ’n natuurreservaat in die omgewing ontsnap deur ’n gat in die heining wat vermoedelik deur stropers gesny is. Wahlstrand wou nie die naam van die reservaat bekend maak nie.

“Dit is onder die natuurreservaat se aandag gebring en hulle het die gat reggemaak. Sekere maatreëls is ook ingestel om te probeer keer dat dit weer gebeur.”

Volgens sy kennis sou die luiperd Vrydag of Saterdag weer in sy tuiste vrygelaat word.

Wahlstrand sê dat dié soort ding is nie ’n algemene verskynsel nie.

“Dit is meestal mense wat veroorsaak dat die diere uitkom deur gate in heinings te sny om diere te stroop. Wilde diere kom dan op die gate af en begin die anderkant van die heining verken.”

Sy raad aan mense wat ’n wilde dier in hul omgewing sien, is om kalm te bly en nie die dier te probeer verwilder nie. Hulle moet hul naaste polisiekantoor kontak wat die dierebeskermingsvereniging daarvan sal laat weet.

“Hulle moet glad nie die dier probeer wegjaag nie, want die dier kan omdraai en hulle aanval. Hulle moet die dier op ’n afstand dophou en seker maak die dier hardloop nie weg nie.”


Meer oor:  Klipgat  |  Pretoria  |  Agterplaas  |  Luiperdmannetjie  |  Luiperd  |  Rondloper-Luiperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.