Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
O wêreld
Waar daar water is, sal sy bykom

As ’n meisie by ’n luukse lodge kuier en sy raak dors, is ’n skemerkelkie by die swembad ’n ideale plan.

Daar was dan tot die nodige sambreel(tjie), al was dit ’n sonsambreel en wel by die patio-deel.

En, sy sou haar slurp as strooitjie moes gebruik.

Die versoeking was so groot dat die olifantkoei vinnig besef het as sy haar grys slurp soos ’n periskoop van onder uit die bosse oor die wal van sowat 4 m hoog kan rank, sal sy die verleidelike swembadwater by die Singita Sweni-lodge in die Krugerwildtuin kon bereik.

Op die oog af was dit in elk geval net sy, haar kalf so neffens haar blad en ander troplede.

Die olifantkoei se slurp rek-rek agter die water aan. Foto: Skermgreep
Die slurp verdwyn oor die wal van 4 m hoog tot onder die watervlak. Foto: Skermgreep
’n Hele slurp vol water word opgesuig. Foto: Skermgreep
Die oomblik toe die olifantkoei besef Wessel Booysen het haar op kamera vasgevang. Foto: Skermgreep

Daar was nie eens ’n Kreepy Krauly wat sou kon klik oor haar skelm drinkery nie.

Die rubberagtige slurp het gevoel-voel na die water, gesuig en weer teruggekrul met stroompies wat agterna streep.

Die slurp was net in haar bek, toe dit lyk of sy bewus raak van Wessel Booysen, ’n veldgids by die lodge, se kamera op haar.

Sy het verleë-skuldig gestaar, asof sy besef sy is met haar slurp in die spreekwoordelike koekieblik betrap.

Die water moes egter baie lekker gewees het, want haar oë trek op lekkerkry-skrefies.

Daarby weet die koei waarskynlik ná sowat 30 jaar die mense van Singita glo aan ’n veilige afstand tussen mens en wilde dier.

Hoewel uitgevang, sluk die olifantkoei die water, terwyl haar kalfie agter haar ook met die slurp strek om by die swembadwater uit te kom. Foto: Skermgreep

Die koei het op die daad weer haar slurp tot in die swembad se water gestrek.

Booysen beskryf dit as ’n “magiese, spesiale oomblik”.

Hy verduidelik dat die lodge naby die oewer van die Sweni-rivier is en mense kan gereeld wild by die water sien.

“Hier is ook enkele goed deurtrapte wildspaadjies, wat die olifante ook gebruik.”

Hoewel die video nou eers op sosiale media geplaas is, sê Booysen dit is einde Augustus geneem.

“Dit was gedurende namiddag-teetyd, net voordat ons op ’n wildrit sou gaan. Die temperature hier kan tot tussen 30 ºC en 40 ºC klim en dit was uitsonderlik warm daardie dag.

Toe gewaar hy die olifanttrop en begin ’n video neem.

“Ons het baie stil gestaan en dopgehou terwyl dié olifant en die res van die trop na die water beweeg. Die koei en haar kalf was baie ontspanne,” sê hy.

Dit lyk of die koei se oë sommer op skrefies trek van lekkerte. Foto: Skermgreep

Volgens hom het dit gelyk of die koei uitgewerk het hoe om die swembadwater te kan bereik.

“Sy het (toe) ’n goeie paar bekke vol water gesluk. Dit was so ’n ongelooflike ervaring,” voeg Booysen by.

Singita sê in ’n verklaring dit is ’n rare, kosbare toneel wat die veldgids vasgevang het.

“Ons personeel is goed opgelei om situasies soos dié te hanteer, want soms beweeg die olifante wel naby aan die lodge. Ons moedig geensins noue interaksie tussen ons gaste en die diere aan nie.

“Daar is protokolle vir personeel en gaste sou ’n situasie soos dié op ’n natuurlike wyse gebeur. In dié geval was daar geen gevaar nie en ons is bevoorreg om so ’n oomblik te kon beleef.”

Net omgewingsvriendelike middels word in die swembad gebruik – baie min chloor en meestal sout.

“Die water is dus nie skadelik vir diere nie,” stel die verklaring gerus.

swembad
Só lyk die swembad en die rivier loop net neffens dit. Foto verskaf

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Dieremaniere  |  Olifant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.