Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Patricia Lewis is al jare net ‘Max se ma’
‘MasterChef’-aanbod het haar laat skater
Patricia Lewis, haar man, Mark Whitfield, en hul seun, Max (10). Hulle woon deesdae in Ballito in KwaZulu-Natal. Lewis sê sy is deesdae net Max se ma en sy en haar man het ’n eiendomsonderneming.

Patricia Lewis is nou “net Max se ma”.

“Vir die eerste keer in 30 jaar is ek net ’n normale ma, nie ’n sangeres nie. My kind het ’n normale lewe by die skool. Hy is net ’n normale outjie en ek is so dankbaar daarvoor,” het Lewis vandeesweek gesê.

Max is nou tien jaar oud.

“Ons woon al die afgelope sewe jaar in Zimbali en het aan die begin op en af gevlieg vir werk. Maar vir die afgelope vier jaar is ek nou heeltyds hier,” het sy gesê.

Volgens Lewis het sy en haar man, Mark Whitfield, saam ’n eiendomsonderneming.

“Eiendomme was nog altyd een van my passies. Toe ek klein was, het ek altyd op ’n Sondag aangetrek en saam met my ma na skouhuise gaan kyk.

“Ons het so sewe jaar gelede hier in Ballito kom vakansie hou en die geleenthede raakgesien. Ons het gesien dis een van die dorpe wat die vinnigste ontwikkel. Ons het toe besluit ons moet ’n plan B hê en ek het nog altyd in die eiendomsbedryf belang gestel.”

Sy mis haar optredes.

“Ek mis die mense wat kom hallo sê, maar ek mis nie die drama agter die skerms nie, die koerante en blogs wat lelik is nie. Dis nie waarom ek ’n sangeres en vervaardiger geword het nie. Dit was vir die liefde vir die vermaaklikheidsbedryf.”

Lewis sal egter volgende jaar weer op TV te sien wees wanneer sy aan Celebrity MasterChef deelneem.

“M-Net het my einde Januarie gebel en gesê hulle hou oudisies.

“Ek het amper van my stoel af geval, ek het so gelag. Vir 13 jaar sit ek op die kantlyn en ek kyk hoe maak my man kos. Ek het net soms slaai gemaak.”

Lewis het eindelik in haar eie huis ’n oudisie afgelê en moes vir die beoordelaars ’n omelet maak.

“Toe vra ek of dit die een is waar jy die eier klits.”

Sy het gesê sy het ’n gereg met ’n glimlaggende gesiggie aangebied en deurgedring tot die volgende ronde, wat vroeg volgende jaar uitgesaai sal word.

Volgens Lewis mis sy dit om te sing en sal sy graag binnekort nog ’n CD wil opneem.

“Maar nog niks is bevestig nie.”

Lewis se huis in Glenvista, Johannesburg, wat vier jaar leeg gestaan het, is nou in die mark, het sy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.