Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pierre Korkie sterf: Obama gee glo opdrag vir reddingspoging
'n Gedenkdiens is vanjaar in Mei in die Katolieke kerk in Mayfair, Johannesburg, gehou om vir Pierre Korkie se vrylating te bid. Foto: Argief
Drie dae gelede het ons vir haar gesê Pierre sal vir Kersfees by die huis wees.

Pierre Korkie, die voormalige onderwyser van Bloemfontein wat deur Al-Kaïda in Jemen as gyselaar gehou is, is dood.

Hy het vermoedelik in 'n skietery gesterf toe Amerikaanse spesiale magte Saterdagoggend in die vroeë oggendure probeer het om gyselaars in Jemen te bevry, het die hulporganisasie Gift of the Givers in ’n verklaring gesê.

Volgens die organisasie is dit wat die tragedie nog erger maak, dat Korkie Sondag vrygelaat sou word.

Luidens die verklaring het Abyan-leiers Saterdagoggend in Aden ontmoet en was besig om die laaste sekuriteit- en logistieke reëlings te tref sodat Korkie na “veligheid en vryheid” gebring kon word.

Gift of the Givers het nog Saterdagoggend aan Korkie se vrou, Yolandé, gesê: “Die wag is amper verby.”

“Drie dae gelede het ons vir haar gesê Pierre sal vir Kersfees by die huis wees.”

Pierre sou uit Jemen gevlieg word na ’n veilige land waar hy sy familie sou ontmoet het. Van daar sou hulle na Suid-Afrika vertrek, waar Pierre in ’n hospitaal opgeneem sou word.

Yolandé het Pierre die laaste keer gesien toe sy in Januarie sonder ’n losprys deur die ontvoerders vrygelaat is nadat sy verlede jaar op 27 Mei saam met Pierre gyselaar geneem is.

Die egpaar het twee tienerkinders, Pieter-Ben en Lize-Marie. 

Sapa-AFP berig ’n Amerikaanse fotojoernalis het in dieselfde mislukte reddingspoging gesterf.

Chuck Hagel, die Amerikaanse minister van verdediging, het in Afganistan gesê die fotojoernalis Luke Somers “en ’n tweede, nie-Amerikaanse burger” is tydens die reddingspoging deur die militantes van Al-Kaïda vermoor.

Die reddingspoging is volgens Hagel op bevel van pres. Barack Obama uitgevoer. “Die Amerikaanse spesiale magte het ’n sending in Jemen uitgevoer om die Amerikaanse burger Luke Somers te red, asook enige ander buitelandse burgers wat saam met hom aangehou is. Daar was goeie rede om te glo Somers se lewe was in gevaar.”

Die plaaslike al-Kaïda-tak in Jemen het Donderdag ’n video aanlyn geplaas waarin Somers gesien kon word. Die militantes het gedreig om hom binne drie dae dood te maak indien Amerika nie gehoor gee aan die groep se eise nie. Die besonderhede van dié eise is nie in die video bespreek nie.

Korkie is in Mei 2013 saam met Yolandé in die Jemense stad Taiz ontvoer. Yolandi is later sonder die eis van ’n losprys vrygelaat en toegelaat om na Suid-Afrika terug te keer. Gift of the Givers het dié vrylating beding.

Yolandé Korkie het sedertdien talle pleidooie aan al-Kaïda in Jemen gelewer om haar man vry te laat.

Obama het intussen sy medelye uitgespreek met die families van Somers en Korkie.

“Namens die mense van Amerika bied ek my diepste medelye aan Luke se familie en sy geliefdes,” het Obama volgens Sapa-DPA gesê.

“Ek bied ook my gebede en gedagtes aan die familie van die nie-Amerikaanse burger wat ook deur hierdie terroriste vermoor is tydens die reddingsoperasie.”

Obama het die moorde as “barbaars” bestempel.

Luke Somers, die Amerikaanse fotojoernalis wat saam met Pierre Korkie omgekom het. Foto: AP
Chuck Hagel, Amerikaanse minister van verdediging, spreek die media toe oor die dood van Pierre Korkie en Luke Somers. Foto: AP
Pierre Korkie in Yemen saam met twee burgers van die land. Foto: Verskaf
Pierre Korkie en sy twee kinders enkele dae voordat hy in Mei verlede jaar gyselaar geneem is. Foto: Verskaf
Yolandé Korkie is saam met haar man ontvoer maar is vrygelaat sonder dat enige losprys ge-eis is. Sy het onverpoosd gepleit om haar man se vrylating. Foto: Nicolene Olckers
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.