Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘10 jaar vir instellings, vertroue om te herstel’

Die wegvreet van Suid-Afrika se staatsinstellings weens swak regering kan tot 10 jaar neem om te herstel, ook om die staatskuld tot ’n aanvaarbare vlak te laat daal.

Dit is volgens Kuben Naidoo, adjunkpresident van die Reserwebank, wat Woensdag op ’n geleentheid van die Wes-Kaapse Handelsbevorderingsagentskap (Wesgro) in Kaapstad gepraat het.

Naidoo sê Suid-Afrika maak ’n stadige ommekeer ná ’n dekade van swak regering wat gekenmerk is deur ’n tekort aan investering in staatsinstellings en die aftakeling van vertroue in ondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

“Die uitwerking van die tekort aan investering in mense en infrastruktuur by instellings soos Eskom, word nou gevoel. Die dekade van swak bestuur van plekke soos die SAID het ook vertroue geskaad en dit sal baie lank neem om dit te herstel.”

Kuben Naidoo, adjunkpresident van die Reserwebank.Foto: Malherbe Nienaber

Naidoo het sy kommer uitgespreek oor die hoë staatskuld in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP). Hy sê die land kan dit nie bekostig dat dit verder toeneem nie. “Anders het ons nie soos voorheen ’n buffer vir die staat wanneer die volgende finansiële krisis die wêreld tref nie. Dit sal waarskynlik tien jaar neem om die verhouding van die skuld tot die BBP tot onder 20% of 30% te kry.”

Daar word verwag die verhouding van staatskuld tot die BBP sal teen einde Maart vanjaar nagenoeg 56% wees.

Naidoo sê Suid-Afrika se ekonomiese groei is sedert 2011 van die res van die wêreld “ontkoppel” en die gemiddelde groei (1,5%) was die helfte van dit wat in die res van die wêreld (3%) ervaar is.

Dit is gedeeltelik veroorsaak deur die dollar wat versterk het en goedkoper hulpbronne op die wêreldmark, maar dit word ook grootliks aan binnelandse kwessies toegeskryf.

Dié uitdagings sluit in beleidsonsekerheid, wantroue tussen die sakewêreld en die regering, asook die feit dat die regering “weekliks R10 miljard leen en R10 miljard betaal om sy skuld te delg”.

“Die meeste van dié probleme kan net deur dialoog opgelos word. Die regering is nou gewillig om te praat en staan nie meer op ’n seepkis om op die private sektor uit te skel nie.”

Naidoo het benadruk dat dit noodsaaklik is dat staatsondernemings, en veral Eskom, ontbondel word, sodat die private sektor by kragopwekking betrokke kan raak. Daar is egter geen vinnige oplossings vir die land se probleme nie.

Die nalatenskap van apartheid se ruimtelike beplanning bly ook ’n probleem wat die meeste stede nog nie reggestel het nie, veral Kaapstad.

Dit lei daartoe dat daar ’n hoër digtheid woongebiede aan die buitewyke van ekonomiese kernpunte is, terwyl dit oor die res van die wêreld glo die teenoorgestelde is en mense nader aan werksgeleenthede woon.

Beverley Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede en toerisme.Foto: Bun Booyens

Voor 1994 het Suid-Afrika se ekonomiese groei nie met die wêreld tred gehou nie en was die land taamlik geïsoleer, sê Naidoo.

“Ons het egter baie vinnig daarvoor oopgemaak en saam met die wêreld begin groei. Selfs ná die wêreldwye finansiële krisis het ons taamlik goed herstel. Wat werksverliese betref, het die kleiner staatskuld vir die regering ruimte gegee om op te tree.”

Beverley Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede en toerisme, het gesê die wêreldekonomie kry die wind van voor met die sprake van ’n tariefoorlog tussen China en Amerika, die onsekerheid oor Brexit, en klimaatsverandering.

Plaaslik is daar ook kommer oor die uitwerking van Eskom se probleme op die land se ekonomie.

“In die Wes-Kaap is daar egter rede vir optimisme en die verwagting is dat landbou-uitvoer gaan toeneem nadat die ergste van die droogte verby is. Dit blyk ook dat voorafbesprekings van toeriste begin styg, en daar is opgewondenheid oor die ontdekking van aardgas aan die kus.”

Die provinsiale regering wil vervaardiging op die platteland aanspoor, sowel as die groenenergiebedryf om “veerkragtiger te raak, soos die geval was met waterbronne tydens die droogte”.

Die provinsie se ekonomie sal na verwagting met 1,9% in 2019 en 2,1% in 2020 groei.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sê die stad kom nou uit die ergste droogte in sy geskiedenis en die boodskap moet aan die wêreld gestuur word dat besoekers welkom is.

“Nog metropolisielede is nodig om die polisie te versterk sodat die gevoel dat mense in Kaapstad onveilig is, reggestel kan word.”

Meer oor:  Kuben Naidoo  |  Instellings  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.