Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
100de polisielede na KZN wyl Cele op hoogste hof wag

Nagenoeg 400 polisiebeamptes van oor die land heen is sedert verlede week na KwaZulu-Natal gestuur, kort nadat oudpres. Jacob Zuma aan minagting van die hof skuldig bevind is.

Bronne sê die polisiebeamptes kom uit Gauteng, die Vrystaat, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Mpumalanga en Wes-Kaap en dat hulle aan die polisie se openbare-orde-eenheid, ook bekend as Pops, verbonde is.

’n Groot aantal polisievoertuie Woensdag in Eshowe, sowat 50 km vanaf Nkandla.

Volgens die bronne is die polisiebeamptes daarheen gestuur nadat ondersteuners van Zuma en een van sy kinders ná die hofbevinding van die konstitusionele hof gesê het hulle sal sterf voordat hy tronk toe gaan.

Die konstitusionele hof het Zuma 15 maande direkte tronkstraf opgelê.

Die polisie hoop glo dat Zuma hom sal oorgee sonder dat enige geweld of bloedvergieting plaasvind.

Intussen wou brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, nie die groot getal bykomende polisiebeamptes in KwaZulu-Natal bevestig nie.

Naidoo het wel gesê hulle is vir enige gebeurlikheid gereed.

“Ons ontplooi altyd mense landwyd, soos ons in die Wes-Kaap gedoen het toe polisielede nodig was om bendegeweld te hanteer.”

Hoewel die polisie ingrypings bekend maak, word besonderhede nooit verskaf nie, sê hy.

“Ek kan egter sê wanneer ons skarebeheer toepas, word lede van Pops gewoonlik uitgestuur.”

Naidoo sê egter verlede naweek is besluit om nie Pops-lede by Nkandla te ontplooi nie.

“Daardie besluit is geneem op grond van ’n ontleding wat getoon het dat daar moontlik beserings of lewensverlies kon wees.”

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, wag volgens bronne in KwaZulu-Natal op die konstitusionele hof om aan te dui of die polisie Zuma in hegtenis moet neem of nie.

Ons ontplooi altyd mense landwyd, soos ons in die Wes-Kaap gedoen het toe polisielede nodig was om bendegeweld te hanteer.
Brig. Vish Naidoo

Die bronne sê Cele is Woensdag met sy aankoms in Nkandla deur die polisie op die hoogte van sake gebring. Hy het toe glo gesê hy wag op die konstitusionele hof om die rigting aan te dui.

Zuma is verlede Dinsdag skuldig bevind aan minagting van die hof en 15 maande tronkstraf opgelê.

Zuma het ’n tersydestellingaansoek tot die konstitusionele hof gerig, wat dit Maandag sal aanhoor.

Hy het ook Dinsdag in ’n dringende aansoek die hooggeregshof in Pietermaritzburg gevra dat die lasbrief vir sy inhegtenisneming om sy tronkstraf te begin uitdien, opgeskort word totdat sy aansoek in die konstitusionele hof afgehandel is. Uitspraak word Vrydag gelewer.

Nadat die konstitusionele hof hom verlede Dinsdag skuldig bevind en gevonnis het, het hy vyf dae gehad om homself oor te gee om sy gevangenisstraf te begin uitdien.

Zuma het egter Sondag gesê dat hy dit weens bogenoemde twee hofaansoeke nie sou doen nie.

Ingevolge die uitspraak van die konstitusionele hof moes die polisie hom binne drie dae in hegtenis neem, sou hy hom nie oorgee nie. Daardie drie dae verstryk Woensdag om middernag.

Naidoo wou nie sê of die polisie Zuma wel voor Woensdag om middernag in hegtenis sou neem nie.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Nkandla  |  Tronkstraf  |  Zuma-Saak  |  Zondo-Kommissie  |  Konstitusionele Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.