Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘11 000 werk kwyt as staat SAL sluit’

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se internasionale vlugte word Sondag hervat, maar alle binnelandse vlugte en streekvlugte na die res van Afrika is steeds tot volgende week gekanselleer.

Volgens die lugdiens se webwerf is kaartjies vir binnelandse vlugte weer van Dinsdag beskikbaar.

Tlali Tlali, SAL-woordvoerder, sê dié besluit is geneem nadat vakbonde en die lugdiens nie teen gistermiddag ’n ooreenkoms kon bereik nie.

Die lugdiens het volgens berigte die afgelope 13 jaar opgehoopte verliese van R28 miljard aangeteken. Volgens Stuart Theobald, voorsitter van Intellidex, werk dit uit op R5,5 miljoen per huidige werknemer.

Byna alle SAL-vlugte is sedert Vrydag gekanselleer weens ’n staking deur lede van die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en die South African Cabin Crew Association (Sacca).

Die vakbonde is woedend omdat die SAL-bestuur aanvanklik enige salarisverhogings geweier het en die lugdiens boonop wil herstruktureer om koste te besnoei, wat sowat 900 personeellede hul werk kan kos.

Vakbonde het aanvanklik aangedring op ’n verhoging van minstens 5,9%, soos wat die vlieëniers kry.

Die bestuur het onder sekere voorwaardes daaraan toegegee, maar nou eis die vakbonde 8%. Totdat dit gebeur, is hulle bereid om onbepaald aan te hou staak.

SAL het gesê die staking kan sy einde beteken. Die lugdiens het volgens berigte die afgelope 13 jaar opgehoopte verliese van R28 miljard aangeteken. Volgens Stuart Theobald, voorsitter van Intellidex, kom dit neer op R5,5 miljoen per huidige werknemer.

SAL kan boonop nie sy finansiële state publiseer nie omdat hy nie ’n lopende saak is nie.

Die regering sal in die volgende drie jaar meer as R9 miljard moet gebruik om skuld van SAL te betaal.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het volgens Bloomberg Donderdag in New York, waar hy vir Suid-Afrika gaan beleggings soek het, gesê die regering sal “moeilike besluite” neem indien nodig. SAL is “nie te groot om te misluk nie”, het hy glo gesê.

Dít het die hoop by sommige kommentators laat opvlam dat die regering besef die prys om SAL te red, raak te hoog en bereid is om die lugdiens te laat ondergaan, eerder as om onbekostigbare verhogings aan te bied en af te sien van die herstrukturering.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, sê die staking skep wesenlike finansiële probleme.

“Die staking en ’n gebrek aan vertroue kan die lugdiens se kontantvloei ernstig benadeel en die regering sal uiteindelik nog ’n reddingsboei aan hulle moet toestaan om hulle aan die gang te hou.”

Fin24 het Saterdag berig die sukkelende lugdiens is reeds onder druk om voor Woensdag R2 miljard te vind om vir sy lopende uitgawes te betaal.

Mulder sê as die regering besluit om die lugdiens nie verder te help nie, sal 11 000 mense hul werk verloor. Die staat sal ook onmiddellik moet pa staan vir die lugdiens se skuld van R40 miljard. ’n Kwart daarvan sal wees vir vooruitgedateerde huurkontrakte vir vliegtuie wat deur die staat gewaarborg is.

“As die staat dit nie betaal nie, sal hy agterstallig raak op al sy skuld. Al sy skuld sal dan baie duur word.”

Volgens Mulder kan dit veroorsaak dat ander staatsentiteite soos Eskom se skuldeisers ook onmiddellike betaling eis.

Hy sê as daar nie ingegryp word nie, sal die lugdiens in elk geval gelikwideer moet word.

Erik Venter, wat onlangs uitgetree het as bestuurshoof van SAL se mededinger Comair, sê die staking beteken nie noodwendig dis reg of weg vir die ewige las op die belastingbetaler nie. Die donker put gaan volgens hom net jaar ná jaar meer belastinggeld opslurp.

Venter sê dis heeltemal te laat om die SAL te red. Hy meen al wat waarde het, is die handelsnaam.

Die beste plan is volgens hom om dit te sluit en met ’n lugdiens soos Comair of internasionaal met een soos Emirates ooreen te kom om vlugte onder die SAL-handelsnaam te bedryf.

As Emirates dit doen, sal hy toegang kry tot roetes tussen Johannesburg en Kaapstad en selfs oos- en weswaarts na byvoorbeeld Suid-Amerika en Australië.

Die SAL sê in ’n verklaring hy werk saam met Mango, sy susterlugdiens, om soveel as moontlik van sy kliënte te akkommodeer wat plaaslik vlieg.

Passasiers wat na ander Afrikalande vlieg, sal sover moontlik op Airlink, ’n vennoot van die SAL, en ander lugdienste geakkommodeer word, lui die verklaring.

Die lugdiens het volgens berigte die afgelope 13 jaar opgehoopte verliese van R28 miljard aangeteken. Volgens Stuart Theobald, voorsitter van Intellidex, werk dit uit op R5,5 miljoen per huidige werknemer.

Meer oor:  Sal-Staking  |  Sal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.