Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
139 plase op ANC-gryplys

Die ANC het 139 plase uitgesoek wat hy beplan om in die volgende weke te onteien ten einde die eiendomsklousule van die Grondwet te toets.

City Press, susterskoerant van Rapport, het verneem die NUK het die groen lig aan sy ontplooides in die departement van landelike ontwikkeling en grondsake gegee om te weier om markverwante pryse te betaal vir die gekose 139 plase op verskeie plekke in die land. Waar die plase is, is nie bekend nie.

’n Toutrekkery heers in die ANC oor die grondkwessie met die twee dominante denkrigtings dié van pres. Cyril Ramaphosa, wat ’n gematigde benadering verkies wat die voorwaardes van onteiening uiteensit, en dié wat sterk druk vir nasionalisering deur die bank.

Zizi Kodwa, lid van die NUK en hoof van die presidensie, wou nie uitwei oor die 139 plase nie.

Hy het benadruk die doel van die proses is om langtermynstabiliteit vir die land te verseker.

‘Doel is stabiliteit op lang termyn.’

“Sowel plaaslike as internasionale beleggers moet tog insien dat langtermynbeleggings gekoppel is aan eienaarskap van grond deur die meerderheid van mense. Met ander woorde, as jy praat van volhoubare langtermyn­sekerheid, is dit verbind aan die regstel van die ongeregtighede van die verlede,” sê Kodwa.

“Jy kan die senuweeagtige reaksie en so aan verstaan, die skok op die oomblik, maar wat ons nou doen, is om beleidsekerheid te skep. Natuurlik kan daar ’n negatiewe impak wees wat die markte betref, maar oor tyd dink ek die markte asook die beleggers sal insien dat wat ons doen, is om beleidsekerheid en die toestande vir toekomstige belegging te skep.”

Kodwa sê die ideaal is dat die onteieningswetsontwerp wat reeds voor die parlement is, teen die einde van die jaar goedgekeur word, want verdere onsekerheid word deur die stadige prosesse veroorsaak. Dit sal die voorwaardes uitstippel waaronder die staat grond sonder vergoeding kan onteien.

Selfs as die staat se toetslopie met die 139 plase slaag, sal ’n wysiging van die Grondwet steeds nodig wees, want absolute duidelikheid is belangrik, sê Kodwa.

“Ons wil nie oor twee of drie jaar besef ons moes klarigheid gekry het nie.”

Ronald Lamola, NUK-lid, het in ’n ander onderhoud die afgelope week aan City Press gesê die ANC oorweeg ook grondbelasting of ’n soort heffing op grond van sogenaamde afwesige grondeienaars as ’n manier om dié grond beskikbaar te maak. Net soos mense gedwing word om binne ’n sekere tydperk op hul erwe in landgoedere te bou, moet dieselfde met ongebruikte grond elders gebeur.

“Mense moet weet dat hulle dit moet gebruik, of hulle sal gedwing word om dit te verkoop of belasting te betaal. Dit sal ook die eiendomspryse afdwing, want daar sal ’n oorvloed grond in die mark beskikbaar wees.”

Enoch Godongwana, voorsitter van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, het gesê die ANC het geen plan om produktiewe grond sonder vergoeding te onteien nie en steun ook nie die EFF se voorstel dat alle grond aan die staat behoort nie.

“Ons streef na verskillende soorte grondbesit, insluitende private grond, staatsgrond, kommunale grond, ensovoorts.

“Op enige stuk grond waarop waarde toegevoeg is, sal die regverdige en billike beginsel toegepas word,” het hy gesê. Dis egter nie dieselfde as markwaarde nie.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig Ramaphosa is op die lekgotla toegejuig toe hy gesê het hy sal self die aankondiging oor die party se besluit oor grond doen.

“Die president weet dis die grootste kwessie tans. Jy wil hê jou kaptein moet hieroor praat, dis nie sommer enige aankondiging nie,” het ’n betroubare bron aan Rapport gesê.

Godongwana sê Ramaphosa se verklaring, wat Dinsdagaand net ná 22:00 op die SAUK se nuuskanaal uitgesaai is, is juis versigtig bewoord om misverstande te voorkom.

Volgens Lamola het die markgerigte aankope van grond, waaraan die staat reeds R54 miljard bestee het, die aankoopproses vertraag en pryse opgejaag.

Die markgerigte aankope is nie geregverdig nie en is ook nie ’n grondwetlike vereiste nie, sê hy.

Die Grondwet meld ander faktore wat in ag geneem moet word, soos die huidige gebruik van die grond en die geskiedenis van verkryging en gebruik.

Vir ’n wysiging aan die Grondwet benodig die ANC, wat tans 62% van die setels in die parlement het, die steun van die EFF (wat 6% van die parlement verteenwoordig) om die vereiste tweederdemeerderheid te behaal. Vir die gewone Wetsontwerp op Onteiening, wat tans voor die parlement dien, is die vereiste net 50%.

Dr. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, het Ramaphosa se aankondiging as ’n gebrek aan eerbied teenoor die parlementêre proses bestempel.

Die FW de Klerk-stigting het gesê

Ramaphosa het die nasionale uitsaaier misbruik deur as leier van ’n politieke organisasie ’n partypolitieke aankondiging te maak asof dit kom van die president van die land.

Ramaphosa het die nasionale uitsaaier misbruik deur as leier van ’n politieke organisasie ’n partypolitieke aankondiging te maak asof dit kom van die president van die land.

Meer oor:  Zizi Kodwa  |  Grondonteiening  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.