Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
150 000 poste in KZN in gedrang ná onluste
Duisende mense staan Vrydag tou by die Windermere-winkelsentrum in Durban om kos te probeer koop. Foto: Deon Raath

Net in KwaZulu-Natal word die voorlopige skade van die grootskaalse plundering en geweld op sowat R20 miljard geraam en is 150 000 poste in die gedrang.

So het Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, Dinsdag op ’n mediakonferensie oor verlede week se onluste gesê.

Sy het ook bekend gemaak dat die regering nou vol vertroue is dat die situasie volkome in KwaZulu-Natal en Gauteng gestabiliseer het nadat geen nuwe voorvalle intussen aangemeld is nie.

Intussen het News24 Dinsdag berig dat Bheki Cele, minister van polisie, op ’n parlementêre toesigbesoek in KwaZulu-Natal ontken het dat hy ’n beweerde intelligensie-verslag van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) in verband met die onluste ontvang het.

Volgens Ntshavheni is die groot verkeerroetes (die N2 en die N3), verskeie spoorlyne en die hawens in Durban en Richardsbaai weer oopgestel en winkelgroepe se verskaffingslyne is weer op dreef.

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die polisie hou ’n wakende oog en volgens Ntshavheni sal die weermag eers onttrek word sodra Suid-Afrikaners “weer veilig voel”.

Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie. Foto: GCIS

Volgens haar toon ’n voorlopige raming van die Suid-Afrikaanse Eiendomsorganisasie dat 161 winkelsentrums geraak is en dat 3 000 winkels en 90 apteke geplunder is.

Sowat 50 000 informele handelaars en 40 000 ondernemings is glo geraak en 300 banke en poskantore is beskadig.

Intussen sal die staatsbeheerde versekeringsmaatskappy Sasria sy eie ontleding oor die omvang van die skade doen, en volgens Ntshavheni werk ministers in die ekonomiese groepering hard om ’n plan op te stel vir veral ondernemings wat nie versekering het nie.

Volgens haar het die kabinet lank reeds intelligensie ontvang dat die hoë werkloosheidskoers ’n veiligheidsbedreiging vir die land inhou.

Sy het gesê die gesteelde goedere wat teruggekry word, sal vernietig word. As die gesteelde goedere in die ekonomie sirkuleer, sal dit die waarde van ander goedere afbring. Dit kan die ekonomie vernietig. 

’n Uitgebrande vragmotor voor die Shell-vulstasie langs die N2 tussen Durban en Empangeni in KwaZulu-Natal. Foto: Deon Raath

Op die vraag wanneer pres. Cyril Ramaphosa die Digital Vibes-verslag bekend gaan maak wat hy van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ontvang het, het Ntshavheni gesê die land word deur ’n nasionale veiligheidskrisis in die gesig gestaar.

“Die president kan dus nie die verslag nou lees nie omdat hy ander dinge het om op te fokus. Sodra die situasie gestabiliseer is, sal die verslag ontleed word.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is vroeër op spesiale verlof geplaas hangende die SOE se ondersoek.

Meer oor:  Khumbudzo Ntshavheni  |  Kwazulu-Natal  |  Geweld  |  Koste  |  Skade  |  Plundering  |  Kzn-Herstel  |  Poste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.