Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
2 Afrika-leiers gevra om te help met geweld in SA

Twee Afrika-lande is versoek om ’n feitesending na Suid-Afrika te lei om die redes vir die onlangse geweld te ondersoek.

Dit is deel van pres. Cyril Ramaphosa se jongste planne om xenofobie en onverdraagsaamheid in die land te takel.

Hy het Woensdag met pres. Jakaya Kikwete van Tanzanië en oudpres. Joaquim Chissano van Mosambiek gepraat en hulle gevra om te help.

Hulle kan aanbevelings doen oor maatreëls om sulke voorvalle te voorkom.

Daar sal ook met plaaslike en internasionale humanitêre organisasies en verskeie diaspora-forums gewerk word aan ’n projek om xenofobie en onverdraagsaamheid te takel. So ’n veldtog moet gemik wees daarop om stereotipes uit te wis en kulturele begrip en maatskaplike kohesie te bevorder.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: ADRIAN DE KOCK

“Daar is geen plek vir xenofobie in die land nie. Nóg is daar plek vir misdadigheid – of dit nou gepleeg word deur buitelanders of plaaslike landsburgers.”

Ramaphosa het dié aankondigings Woensdag op ’n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies gedoen.

Hy het dié buitengewone sitting aangevra om aandag te gee aan die voorkoms van gendergeweld, asook die onlangse vlaag van geweld wat op buitelanders, sowel as Suid-Afrikaners, gemik was.

Sy aankondiging volg kort nadat hy ’n span spesiale gesante na sewe ander Afrika-lande gestuur het om boodskappe van solidariteit met verskeie staatshoofde en regerings te kommunikeer.

Die span bestaande uit oudmin. Jeff Radebe, ambassadeur Kingsley Mamabolo en die ANC-veteraan dr. Khulu Mbatha, het Nigerië, Niger, Ghana, Senegal, Tanzanië die Demokratiese Republiek van die Kongo en Zambië besoek.

Ramaphosa het Woensdag ook gesê sy boodskap aan die staatshoofde is goed ontvang.

Hy het gesê sowel die onverdraagsaamheid as frustrasie vereis aandag.

“Soos ons rassisme en xenofobie takel, moet ons ook nuwe lewe blaas in ons pogings om ’n ekonomie te laat groei wat inklusief is en ’n staat bou wat bekwaam en ontwikkelend is.”

Ferm optrede is noodsaaklik ten opsigte van enige misdadigheid.

“Gewelddadige diensleweringsbetogings, die vernietiging van openbare geriewe, kabeldiefstal, onwettige elektrisiteitsverbindings, vragmotorkapings en die indring van boupersele ontwrig noodsaaklike dienste en plaas lewens en mense se bestaan in gevaar.

“Dit destabiliseer gemeenskappe en inhibeer ekonomiese aktiwiteit,” het Ramaphosa gesê.

Terselfdertyd moet aandag gegee word aan die bekommernisse van die mense.

“Ons weet ons mense is bekommerd oor onwettige immigrasie en oor sommige buitelanders wat by misdaad betrokke is. Ons verstaan die bekommernisse van plaaslike sake-ondernemings wat sukkel om mee te ding met die vervalste goedere wat verkoop word teen pryse wat hulle nie kan ewenaar nie. Ons deel die frustrasie dat sommige Suid-Afrikaanse werkgewers buitelanders in diens neem bó plaaslike landsburgers sodat hulle lone kan sny en só werker teen werker draai.”

Die regering het grensbeheer en sekerheid geprioritiseer en wil verseker dat regulasies verskerp word om onwettige immigrasie af te skrik.

“Suid-Afrikaanse werkgewers, hetsy hulle in die vragmotorbedryf, gasvryheid- of landboubedryf is, moet die wet nakom. Almal wat sake doen in die land moet geregistreer wees en aan wetsvereistes voldoen.”

Ramaphosa het met verwysing na die proliferasie van dwelmhandel in sekere gebiede gesê sowel Suid-Afrikaners as buitelanders is betrokke daarby. Dit moet as ’n kwessie van wetstoepassing gehanteer word ongeag van die nasionaliteit van die mense wat daarby betrokke is.

“Die onwettige optrede van ’n paar moenie daartoe lei dat ons draai teen alle buitelandse landsburgers waarvan die meeste ordentlik en wetsgehoorsaam is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.