Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
2 j. tronkstraf wat kommissie vir Zuma vra ‘oormatig’

Twee jaar tronkstraf.

Dít is die straf wat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping die konstitusionele hof vra om aan oudpres. Jacob Zuma op te lê weens minagting van dié hof se vroeëre bevel dat hy voor die kommissie moet getuig.

Zuma weier egter botweg om gehoor te gee aan dié hofbevel óf verskeie ander dagvaardings om voor die kommissie te verskyn.

Oudpres. Jacob Zuma

Hy hou vol dat die kommissie bevooroordeeld teenoor hom is, gevorm is om hom as staatshoof te verwyder en dat “diegene in die regbank ’n uitbreiding geword het van politieke magte wat ons land wil vernietig en beheer”.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag gewaarsku teen “ongegronde aanvalle” teen die regbank deur prominente Suid-Afrikaners wat daarop uit is om Suid-Afrika se howe te ondermyn en die grondwetlike orde te verswak.

Prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die kommissie, het in ’n beëdigde verklaring wat Maandag as deel van ’n dringende aansoek by die konstitusionele hof ingedien is, aangevoer dat Zuma as voormalige staatshoof ’n voorbeeld deur sy gedrag en woord moet stel.

“As Zuma die integriteit en gesag van hierdie hof, en die hele regstelsel in die geheel ondermyn, bestaan daar ’n ernstige risiko dat hy ander ook sal inspireer om dit te doen en die oppergesag van die reg sal fundamenteel daardeur verswak word,” het Mosala aangevoer in die aansoek waarin die kommissie vra dat Zuma aan minagting skuldig bevind en direkte tronkstraf opgelê word.

Lawson Naidoo, ’n grondwetkenner van die raad vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac), meen die kommissie het geen ander keuse as dié roete nie weens Zuma se “openlike en uitdagende” gedrag, nie net teenoor hofbevele en dagvaardings nie, maar ook weens sy onlangse “lasterlike” aanvalle op die regbank en veral regters van die konstitusionele hof.

“Die regbank moet ’n duidelike boodskap uitstuur dat sulke gedrag veral nie van ’n voormalige staatshoof geduld sal word nie.”

Dr. Llewelyn Curlewis, ’n regskenner aan die Universiteit van Pretoria, meen egter dat die Zondo-kommissie effens “oormatig” met sy aansoek is.

“Dit is ongekend dat ’n eerste oortreder so ’n straf in Suid-Afrika opgelê sal word. Dit is siviele minagting en die hoogste straf daarvoor was tot dusver 30 dae tronkstraf.

“Die kommissie moes ’n strafregtelike roete gevolg het vir ’n swaarder straf, wat in so geval ook net ses maande tronkstraf sou wees.”

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, is saam met Zuma respondente in die kommissie se hofaansoek.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto: Skermgreep

Dit is omdat hulle nodig sal wees om die hofbevel uit te voer indien dit toegestaan word.

Mosala voer in die hofstukke aan die aansoek is uiters dringend, veral weens Zuma se herhaaldelike aanvalle op die regbank, wat vertroue in die howe ondermyn.

Volgens Mosala dink Zuma duidelik hy is verhewe bo die reg en dat ander wette vir hom geld as vir ander landsburgers.

Die kommissie is egter ook bereid om sy aansoek te laat vaar, mits Zuma voor 31 Maart vanjaar voor hom kom getuig.

Zuma moes ingevolge die konstitusionele hofbevel van 15 tot 19 Februarie vanjaar voor die kommissie getuig het.

Mosala sê daar is by die kommissie geen twyfel nie dat Zuma “willens en wetens ’n hofbevel geïgnoreer het en daarom skuldig is aan minagting van die hof”.

Dit is nog nie bekend wanneer die aansoek aangehoor sal word nie.

Eric Mabuza, Zuma se prokureur, was nie Maandag beskikbaar vir kommentaar nie.

Prof. Zwelinzima Ndevu, ’n politieke ontleder van die Universiteit Stellenbosch, het Maandag gesê die kommissie se jongste aansoek by die konstitusionele hof sal ’n toets vir die doeltreffendheid van Suid-Afrika se regstelsel en wetstoepassingsagentskappe wees.

“Daar sal egter ook gewaak moet word om nie die land te destabiliseer nie aangesien Zuma se ondersteuners reeds aangedui het dat hulle hom teen enige inhegtenisneming sal beskerm.”

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.