Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
2 vroue in wedloop vir Mabuza-pos

Op ’n dag van politieke hoogdrama met adj.pres. David Mabuza se onttrekking om as LP beëdig te word, is daar Woensdag druk gegis dat een van twee senior kabinetslede – drs. Nkosazana Dlamini-Zuma of Naledi Pandor – moontlik die land se nuwe adjunkpresident kan word.

Kort nadat pres. Cyril Rama­phosa Woensdagmiddag vir sy eerste volle termyn as president verkies is, wou hy buite die parlementsgebou nie reageer op joernaliste se vrae oor die situasie met betrekking tot Mabuza en die adjunkpresidentskap nie.

David Mabuza at Nedlac sept 2018
David Mabuza.

Ramaphosa, wat sedert die verkiesingsuitslag sy duidelikste greep tot nog toe op die ANC begin wys het, het Woensdagoggend in ’n verklaring gesê hy het ’n versoek van Mabuza, wat ook die ANC-adjunkpresident is, ontvang om sy beëdiging as LP uit te stel en hy het dit goedgekeur.

Mabuza voer aan hy wil die ANC se integriteitskomitee toespreek in die lig van ’n verslag van dié komitee waarin beweer word dat hy die integriteit van die ANC benadeel en die organisasie in oneer gebring het.

Sommige bronne het Woensdag daarop gewys dat Mabuza se skuif “tydelik” is en dat hy in die volgende dae of weke weer vir die tweede hoogste amp in die land beskikbaar kan wees. Ander glo hy is op pad om voltyds in die party se hoofkantoor in Johannesburg te gaan werk.

Dlamini-Zuma se naam is reeds die laaste paar weke deur sommige ontleders en bronne in die ANC as adjunkpresident genoem as ’n “meesterplan” van Ramaphosa om eenheid in die ANC te versterk en sy posisie jeens die ANC-vroueliga en KwaZulu-Natal te versterk.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: Rogan Ward/Reuters

Die aanwysing van die oorwegend Ramaphosa-gesinde Sihle Zikalala as premier van KwaZulu-Natal het die scenario volgens waarnemers versterk. Tog glo prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder verbonde aan Unisa, “die persoon wat myns insiens nou sterk na vore tree, is Pandor en nie Dlamini-Zuma nie”.

“Met die verwikkelinge van die mense wat die laaste paar dae gevra het om nie meer LP’s te word nie, word dit vir my duidelik dat Ramaphosa besig is om almal wat noue bande met oudpres. Jacob Zuma gehad het uit te hou.”

Pandor is minister van hoër onderwys en opleiding en geniet hoë aansien in die ANC.

Kotzé sê in ag genome die kritiek teen die ANC oor die gebrek aan vroue onder die premiers, sal Pandor se aanstelling tot sy voordeel wees.

“Omdat haar familie oorspronklik uit die Oos-Kaap kom, kan hy ook dié provinsie se guns wen.”

Dr. Naledi Pandor. Foto: Sarel van der Walt

Sy was ook Ramaphosa se eerste keuse vir die amp toe hy ANC-president geword het.

Hy dink die groep ANC-lede wat reeds gevra het om nie meer LP’s te wees nie begin sien die “skaal is besig om in die rigting van Ramaphosa te swaai”.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, glo ook die keuse vir adjunkpresident lê tussen Pandor en Dlamini-Zuma.

Hy sê dit is baie duidelik daar “was enorme druk” op van die ANC-lede wat besluit het om terug te staan.

Duvenhage sê met mense soos Mabuza, Baleka Mbete en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, moontlik saam in Luthuli-huis, bestaan die gevaar dat twee magsbasisse binne die ANC kan ontstaan: Luthuli-huis en die Uniegebou.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê Ramaphosa moet versigtig wees om nie die beheer van die ANC in die hande van sy kwaadpraters te laat nie.

Kotzé sê dié groep kon die hef in die hand gehad het as hulle die provinsies beheer het.

“Nou is net twee van die agt ANC-premiers Zuma-ondersteuners. Ramaphosa geniet boonop die meeste steun in die parlement en die nasionale uitvoerende komitee.” 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.