Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
2 wettige mans vir ’n vrou een te veel vir sommige mense

Dit is so dat ’n man in Suid-Afrika in sekere gevalle met meer as een vrou mag trou, maar die gedagte dat ’n vrou die wettige reg kry om met meer as een man te mag trou, is vir baie mense een te veel.

Dit was duidelik toe geloofsgroepe Donderdag hul skok uitgespreek het oor voorgestelde wetgewing wat sal toelaat dat vroue poliandriese huwelike met meer as een man kan aanknoop.

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake. Foto: GCIS

Dié voorstel word vervat in ’n besprekingsdokument oor veranderings aan huwelikswetgewing wat deur dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer is.

Ingevolge die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike mag mans reeds onder streng voorwaardes met meer as een vrou in die eg tree, maar vroue wat met meer as een man wil trou, mag dit nie doen nie.

Ganief Hendricks, leier van die politieke party Al Jama-ah, wys daarop dat mans ingevolge die Moslem-geloof wel met meer as een vrou mag trou, maar nie andersom nie.

“Die voorstel word ingesluit weens druk van sekere randgroepe wat hulle beywer vir geslagsgelykheid. Maar dié keer het hulle te ver gegaan. Dit sal die familie as ’n instelling en die samelewing skade berokken,” sê hy.

Hendricks het gedreig dat sy lede die strate sal invaar in ’n poging om te keer dat sulke poliandriese huwelike ’n wetlike werklikheid in Suid-Afrika word.

Die voorstel word ingesluit weens druk van sekere randgroepe wat hulle beywer vir geslagsgelykheid. Maar dié keer het hulle te ver gegaan. Dit sal die familie as ’n instelling en die samelewing skade berokken.

Hy vrees voorts dat dit onder jong vroue mode sal word om in veelmannige huwelike te tree.

Eerw. Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, het die staat daarvan beskuldig dat hy met die voorgestelde wetgewing bloot internasionale lof wil kry deur as “progressief” beskou te word.

“Huwelike waar een man verskeie vrouens het, is tradisie in baie inheemse kulture, maar die voorstel dat ’n vrou ’n veelmannige huwelik kan hê, is onprakties.

“Ons weet hoe is mans. Wat sal gebeur as al vyf mans op een slag die aand saam met haar wil deurbring? Die kwessie sal tot konflik in die samelewing lei,” sê Meshoe.

25-06-2019 Die debat rakende president Cyril Ram
Eerw Kenneth Meshoe, leier van die ACDP. Foto: Jaco Marais

Hoewel die betrokke deel van die voorgestelde wetgewing ook melding maak van seksuele oriëntasie, is dit onduidelik of ’n vrou byvoorbeeld toegelaat sal word om met een man en twee ander vroue te trou.

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het by navraag gesê hy het ’n taakspan aangewys om die voorgestelde wysigings aan die wetgewing noukeurig te bestudeer. Hy werk ook met alle lede-kerke hieroor saam.

Ingevolge die besprekingsdokument kan wetgewing ook onder meer deurgevoer word wat sal keer dat minderjariges trou en dat huweliksbeamptes, wat werk vir die staat, nie mag weier om paartjies van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig nie.

Motsoaledi het in die Staatskoerantgesê hoewel insette van die publiek oorweeg sal word, sal daar nie ag geslaan word op beskouings wat die regte van ander sou skend nie.

“Die beoogde huwelikswetgewing sal Suid-Afrikaners van alle seksuele oriëntasies asook religieuse en kulturele oortuigings toelaat om wetlike huwelike deur te voer wat sal ooreenstem met die beginsels van gelykheid, nie-diskriminasie, menswaardigheid en eenheid in diversiteit soos vervat in die Grondwet,” lui die Staatskoerant.

Ons weet hoe is mans. Wat sal gebeur as al vyf mans op een slag die aand saam met haar wil deurbring? Die kwessie sal tot konflik in die samelewing lei.

Daar word voorlopig beoog om ’n wysigingswetsontwerp oor huwelike teen 31 Maart 2024 by die parlement vir goedkeuring in te dien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.