Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
2 Zuma-meelopers kom onder skoot
Supra Mahumapelo, (links) en Ace Magashule.Foto: Jabu Kumalo

Terwyl die DA vrae aan Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, gerig het oor bewerings dat Ace Maga­shule, haar voorganger, die opposisieparty ATM help stig het, het Cope geëis dat ’n ander vurige ondersteuner van oudpres. Jacob Zuma in hegtenis geneem word weens sy beweerde betrokkenheid by ’n huurmoord.

Dr. Roy Jankielsohn, leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het in ’n mediaverklaring gesê die vrae gaan oor die bewerings van Buyisile Ngqulwana, voormalige sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Messiaanse Kerke, dat Magashule, nou sekretaris-generaal van die ANC, die oprigting van ATM help finansier het.

Ngqulwana maak die bewering in ’n beëdigde verklaring aan die ANC, wat tans met ’n ondersoek daarna besig is. Hy sê Magashule het aan Kopung Ralikontsane, direkteur-generaal (DG) in die Vrystaatse regering, opdrag gegee om R141 000 aan die African Transformation Foundation te betaal.

Dié geld is glo gebruik om die uiteindelike stigting van die politieke party wat hieruit voortgevloei het, die African Transformation Movement (ATM), te finansier.

Dié geld is glo gebruik om die uiteindelike stigting van die politieke party wat hieruit voortgevloei het, die African Transformation Movement (ATM), te finansier.

Volgens Rapport is die geld deur Dots Design, ’n diensverskaffer van die Vrystaatse regering, in die stigting se bankrekening betaal en het Ralikontsane dit gefasiliteer.

Ralikontsane het Sondag gesê dit is nie waar dat hy so ’n opdrag gekry het nie, maar sal kommentaar lewer sodra hy die DA se verklaring gesien het.

“ ’n Regeringsinstelling mag nooit ’n skenking aan ’n politieke party maak nie. Indien die instelling destyds so gekamoefleer was dat ons gedink het dit is ’n kerk aan wie ons die geld oorbetaal, mag dit dalk so wees, maar ek kan glad nie so iets onthou nie.”

Ntombela het gesê Ralikontsane het aan haar gesê hy is geskok oor die bewerings toe sy hom daaroor gevra het.

Jankielsohn sê sou dit wel gebeur het, is dit ’n ernstige ampsoortreding van die voormalige premier en ernstige wangedrag deur die DG.

Magashule het vroeër oor die bewerings gesê hy stel ’n lastereis teen Ngqulwana in. Hy het al verskeie kere die bewerings teen hom heftig ontken.

Ngqulwana, het volgens News24 altyd volgehou die ATM is die breinkind van Magashule en Zuma.

Ondertussen het Sunday World  berig Supra Mahumapelo, die eertydse Noordwes-premier wat soos Magashule ’n stoere ondersteuner van Zuma is, was betrokke by die huurmoord op ’n vooraanstaande sakeman van die provinsie.

Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het gevra dat hy dadelik in hegtenis geneem moet word.

Sunday World het berig dat Mahumapelo en ’n voormalige ANC-burgemeester en huidige LP na bewering R1 miljoen aangebied het om die sakeman Wandile Bozwana te vermoor.

Die eedsverklaring:

Ngqulwana beweer in sy eedsverklaring teen Magashule se lastereis onder meer:

“Die feite sal wys dat die applikant (Magashule) instrumenteel was in die ontwikkelinge wat uiteindelik tot die ATM se stigting as ’n politieke party gelei het . . .

“Besprekinge in dié verband het in Desember 2017 in KwaZulu-Natal by oudpres. Jacob Zuma se woning begin waar die uitslag van die ANC-verkiesingskonferensie en die weg vorentoe bespreek is. Ek was betrokke by sommige van daardie gesprekke.

“Mense wat (dr.) Nkosazana Dlamini-Zuma (NDZ) in die ANC-verkiesingskonferensie ondersteun het, sowel as die leierskorps van die Twelve Apostle Church in Christ, wat ook NDZ-ondersteuners was, was ook teenwoordig.”

Ngqulwana sê nog ’n vergadering is op 8 Januarie 2018 in Oos-Londen gehou waarop ondersteuners van Dlamini-Zuma bespreek het wat gedoen moes word om hulle polities te beskerm en as hulle poste in pres. Cyril Ramaphosa se regering verloor.

“Onder diegene wat op die vergadering op 8 Januarie teenwoordig was, was Magashule.”

Mahumapelo is tans ’n parlementslid en voorsitter van dié se portefeuljekomitee oor toerisme.

Die beweringe is glo vervat in ’n beëdigde verklaring wat ’n beweerde huurmoordenaar en bendelid in Mei 2016 by die Gautengse provinsiale ondersoekeenheid ingedien het.

Die huurmoordenaar het ’n staatsgetuie geword en het die polisie glo gelei om sy ander makkers wat ook by die moord op Bozwana betrokke was, in hegtenis te neem. Vier mans staan weens die moord tereg.

Vroeër is berig hoe Bozwana (45) op 2 Oktober 2015 in die Unitas-hospitaal in Centurion dood is nadat hy nege keer geskiet is toe hy in Pretoria in ’n motor aangeval is. Mpho Baloyi, sy kollega, is ook getref, maar het oorleef.

Mahumapelo het gister aan News24 gesê die bewerings teen hom is “versinde leuens” deur sommige in die ANC. “Die bewerings is deel van ’n plan deur sommige ANC-lede om my in enige vorm van my bestaan te vernietig.”

Mahumapelo hou vol dat alles deel is van ’n plan om hom stil te maak omdat hy wandade in die ANC uitlig. Volgens Ngqulwana is nog ’n vergadering op 8 Januarie 2018 in Oos-Londen gehou waar NDZ-ondersteuners bespreek het oor wat gedoen moes word om hulle polities te beskerm en as hulle poste in Ramaphosa se regering verloor. “Onder diegene wat teenwoordig by die 8 Januarie-vergadering was, was Magashule.”– Marietjie Gericke, Llewellyn Prince en News24

Meer oor:  Ace Magashule  |  Buyisile Ngqulwana. Jacob Zuma  |  Zuma-Meelopers  |  Da  |  Cope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.