Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
20 000 gaan betoog – 99 op ’n slag...

Nehawu wil die 20 000 optoggangers wat hy by Pretoria bymekaar wil kry om protes aan te teken teen die besnoeiing van staatsdiens-salarisse in groepies van 99 verdeel sodat hulle mekaar nie met die nuwe koronavirus aansteek nie.

Só sê Nehawu se hoofsekretaris, Zola Saphetha. “Ons sal sorg dat hulle ’n veilige afstand tussen mekaar handhaaf. Ons sal ook sorg dat hulle hand-saniteerder gebruik,” sê hy.

Nehawu is vasbeslote om voort te gaan met die protesvergadering al is daar ingevolge rampregulasies ’n verbod op byeenkomste van meer as 100 mense.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag gesê die optoggangers sal uitmekaar gejaag word as hulle durf opdaag. “Die regulasies laat ons toe om die organiseerders van so ’n optog in hegtenis neem. Ons gaan dit doen,” het hy gewaarsku.

Vakbonde kan beheer verloor oor hul lede.

Meer as twee-derdes van Nehawu se 235 000 lede werk in die gesondheidsdienste.

Staatsdiensvakbonde verwag dat die land se 1,3 miljoen staatsamptenare geen verhogings gaan kry nie.

Ingevolge die driejaar-loonooreenkoms wat op 1 April in werking tree, moet die amptenare verhogings van tussen 5,9% (op die laagste posvlakke) en 4.9% (op die hoogste posvlakke) kry asook ’n verdere kerfverhoging van net meer as 1% vir die meeste van hulle.

Die regering het reeds gesê hy kan nie die ooreenkoms nakom nie omdat hy R37,5 miljard uit die staat se loonrekening moet bespaar. Dit laat ruimte vir verhogings van hoogstens 1,5%.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Februarie ’n begroting ingedien waarvolgens die staat in die volgende drie jaar R160 miljard uit sy loonrekening gaan besnoei.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder vir staatsdiens en administrasie, het Vrydag gesê die beplande Nehawu-optog gaan duisende staatsamptenare en lede van die publiek blootstel aan besmetting met Covid-19.

Hy het lt.genl. Khehla Sithole, kommissaris van die SAPD, en Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, gevra om in te gryp.

Saphetha sê die optog, wat oor tien dae gehou gaan word, sal ’n waarskuwing aan die regering wees.

“Dit gaan ’n waarskuwingsoptog wees om te wys wat gaan gebeur as die regering deurdruk en nie die ooreengekome verhogings gee nie,” het Saphetha Vrydag aan Rapport gesê.

Daar sal ook optogte in die res van die land gehou word. Hoewel geen van die vakbonde nou al dreig om te staak nie, sal bittermin vakbondlede dié dag werk omdat hulle by die optogte gaan wees, sê Saphetha.

Leon Gilbert, hoofsekretaris van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat 235 000 staatsamptenare as lede het, sê hulle beskou die loonooreenkoms as bindend en gaan ’n bepalende hofbevel aanvra om dit af te dwing as die verhogings nie op 1 April gebeur nie.

Die vakbonde het Dinsdag op ’n vergadering met regeringswoordvoerders in die sentrale bedingingsraad vir die staatsdiens volstrek geweier om enigsins te onderhandel oor die loonooreenkoms.

Basil Manuel, hoofsekretaris van die onderwysvakbond Naptosa, het gesê hul voorstel was dat die staat die huidige loonooreenkoms eerbiedig en maar met hulle begin onderhandel oor die volgende een.

“Hulle het glad nie daarop gereageer nie. Die vergadering is daarna verdaag, wat vir ons ’n duidelike teken is dat hulle geen verhogings gaan implementeer nie,” sê Manuel.

Die vakbonde kan egter niks doen voordat hul lede hul betaalstate aan die einde van April kry nie. Eers daarna kan hulle hof toe gaan as dit blyk dat die regering nie die loonooreenkoms eerbiedig nie.

Gilbert sê dis onverantwoordelik van die regering om die vakbonde só aan ’n lyntjie te hou.

“Ek is bekommerd daaroor dat die vakbonde beheer oor hul lede kan verloor en dat ander vakbondlede by Nehawu se betogings kan aansluit.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Staatsamptenare  |  Nehawu  |  Salarisse  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.