Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
24 aanbevelings in verslag oor De Lille, Smith

Sowat 24 aanbevelings, waarvan sommige die hele koukus van die Kaapstad-metro raak, word in ’n verslag vervat wat afgehandel is ná ’n interne DA-ondersoek rakende Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid.

Die DA se federale raad het dié verslag die naweek bespreek en die betrokke partye is tot Maandag gegee om daarop te reageer.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, is in Oktober deur die DA aangestel om dié ondersoek te lei, kort nadat De Lille en Smith op spesiale verlof geplaas is van alle DA-aktiwiteite in die Kaapstad-metro weens beweringe wat hulle oor en weer oor mekaar gemaak het.

Die verslag bevat sekere spesifieke feite en maak sekere gevolgtrekkings.

Die spanning tussen De Lille en Smith, wat reeds ’n geruime tyd opgebou het, het vroeg in Oktober tot uitbarsting gekom toe Smith en ander lede van die Kaapstad-metro se spesiale ondersoekeenheid glo bewerings van “onregmatige” veiligheidsopgraderings by De Lille se private woning gemaak het waarvoor die Kaapstad-metro glo betaal het.

De Lille, wat tóé aangedui het dat sy regsadvies inwin oor “lasterlike en kwaadwillige” bewerings teen haar, het die bewerings ten sterkste ontken en aangevoer dat sy self vir die verbeterings by haar huis betaal het.

Die bewerings het aan die lig gekom kort nadat De Lille opdrag gegee het dat die spesiale ondersoekeenheid, wat deel is van Smith se portefeulje, toegemaak moet word.

Die spesiale subkomitee van die DA se federale raad, onder leiding van Steenhuisen, moes die “politieke bestuur en die regeringsituasie” in die Kaapstad-metro ondersoek.

James Selfe, voorsitter van die federale raad, het Dinsdag bevestig dat Steenhuisen aan die volle raad terugrapporteer het ná die afhandeling van sy ondersoek.

Hy wou nie uitwei oor die inhoud van die verslag nie. “ ’n Reeks aanbevelings – sowat 24 – word in die verslag gemaak ten opsigte van sekere kwessies. Sommige daarvan raak die hele koukus van die Kaapse stadsraad.

“Die verslag bevat sekere spesifieke feite en maak sekere gevolgtrekkings. Afskrifte daarvan is aan die betrokkenes oorhandig en hulle is gevra om teen 18 Desember daarop te reageer.”

Selfe sê die raad sal weer vergader om al die reaksies te oorweeg, waarna ’n besluit oor die pad vorentoe geneem sal word.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Da  |  Verslag  |  Jp Smith  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.