Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
3 boeke uit VS bring ‘realistiese blik’ op SA

’n Ontheemding, ’n vervreemding.

Dit is waarop al drie boeke sinspeel wat vanjaar uit die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans gekom het.

So het prof. Henning Pieterse Donderdagaand in die Botaniese Tuine op die bekendstelling van die boeke van sy kollega dr. Francois Smith en van hul nagraadse studente Madré Marais en Anton Roodt gesê.

“Dit is uitsonderlik dat daar vanjaar drie boeke uit die departement gekom het. Dis ’n proses van jare se werk.”

Marais en Roodt het onlangs die M-graad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Pieterse en Smith voltooi en hul boeke, Luistervink, ’n kortverhaalbundel, en Weerlose Meganika, is ’n resultaat van dié gesogte kursus.

Hoewel die storie jare in sy kop broei, het Smith sy roman, Die kleinste ramp denkbaar, binne drie maande van hoek tot kant geskryf.

Dit volg op sy veelbesproke roman, Kamphoer, wat onder meer vir die Jan Rabie-Rapport-toekenning en ’n ATKV-toekenning benoem is en vir die literêre toekennings van Sunday Times vir 2018 gekortlys is.

Prof. Henning Pieterse (heel links) het die boekbekendstelling van drie Bloemfonteiners, dr. Francois Smith, sy kollega by die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans, Nederlands, Frans en Duits, Madré Marais en Anton Roodt, gelei. Foto: Cheréne Pienaar

Pieterse het gesê dit is opvallend dat al drie boeke wys op ’n sekere regime, en nie noodwendig die wit regime nie.

“In Francois se boek ’n ontheemding, ’n vervreemding. Ook in Madré se boek in die kortverhaal Brandoffer, met die hoofkarakter wat in Londen sit.”

Hy sê dié stories laat jou elkeen terugdink aan ’n wêreld wat was, wat besig is om te verander.

“Daar is grond wat van hande verwissel.”

Roodt se satiriese roman het ’n hoofkarakter, kol. Rooipiet, wat sy bes doen om in en aan te pas by ’n nuwe situasie “en dit gaan nie so goed met hom nie”.

Hy sê hy wil nie van ’n “kultuurpessimisme” praat nie, maar eerder “’n realistiese aanslag op die situasie in Suid-Afrika”.

Die bundel van Marais, wat die afgelope agt jaar as taalredigeerder by Volksblad se sentrale plaaslike koerante werk, is die afgelope twee weke in Bloemfontein se boekwinkels uitverkoop.

Pieterse sê toe hy drie jaar gelede haar manuskrip gelees het, het hy geweet dit gaan publiseer word.

Haar kortverhale is langer as die gewone kortverhaal en meer soos ’n novelle, het hy gesê.

“Sy skep ’n tussen-genre en dis wat ’n goeie skrywer doen.”

Met Roodt se tesis het hy hom byna doodgelag en geweet “hierdie gáán net werk”.

Roodt, die Bloemfonteinse argitek, het volgens Pieterse ontsaglik hard gewerk.

“Jy formuleer beskrywings, vervloeking, beswerings.”

Al drie skrywers is van plan om nog boeke die lig te laat sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.