Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
3 dekades onder ANC vermors - Manuel

Die ANC sê hy is diep bekommerd oor die uitlating van Trevor Manuel, voormalige minister van finansies, wat gesê het die ANC-bewind sedert 1994 is “amper drie dekades wat vermors is”.

Manuel het dit Donderdag op ’n webinaar-gesprek deur die Catholic Parliamentary Liaison Office en die Hanns Seidel-stigting gesê.

News24 berig Manuel het in die gesprek, wat gehandel het oor of ’n sosialistiese markekonomie in Suid-Afrika kan werk, gesê: “Die groot uitdaging waarmee ons in Suid-Afrika te kampe het, is wat doen ons nou, met amper drie dekades wat vermors is?”

Manuel, deesdae voorsitter van Old Mutual, het egter ook gesê dat daar beduiende ekonomiese groei tussen 2000 en 2007 gedurende die termyn van oudpres. Thabo Mbeki was.

Die ANC het Maandag in ’n verklaring gesê hoewel hy Manuel se reg op vryheid van spraak respekteer, is daar geen gronde om ’n “verdoemende beeld aan die land, die media en die buitewêreld uit te dra nie”.

Trevor Manuel, voormalige minister van finansies.

Die party sê hy is “pynlik bewus” van die voortdurende aanvalle op hom wat op “’n desperate wyse op verskeie sosialemediaplatforms gevoer word” en maan Manuel om nie in “hierdie lokval” te trap nie.

Op die vraag of Suid-Afrika werklik gedoem is, het dr. Theuns Eloff, voormalige voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting, gesê daar is “verskillende grade van gedoem”.

“Hulle sê gewoonlik in Afrika gebeur die beste of die slegste nooit nie. Ek dink nie alles is verlore nie en dat niks herstel kan word nie.”

Volgens hom het Manuel waarskynlik oordryf in ’n poging om die ANC wakker te skud omdat die party ontken hoe sleg dit werklik gaan.

Dr. Somadoda Fikeni, ’n politieke ontleder verbonde aan Unisa, het gesê die uitspraak van Manuel, wat as ’n ondersteuner van pres. Cyril Ramaphosa beskou word, dui op die toenemende frustrasie in sekere ANC-kringe oor die stadige pas van hervorming.

Volgens Fikeni was oudpres. Nelson Mandela se termyn wel oorwegend positief. Gedurende die Mbeki-era het die ekonomie goed gevaar, maar volgens hom het die ANC toe reeds begin om mense op grond van lojaliteit, pleks van op meriete, in poste aan te stel.

Die ANC wys verder in sy verklaring daarop dat die lewenskwaliteit van Suid-Afrikaners sedert 1994 “geweldig” verbeter het. Vordering is met toegang tot skoon drinkwater, behuising, onderwys, maatskaplike toelae en gesondheidsorg gemaak.

Meer oor:  Demokrasie  |  Politiek  |  Anc  |  Trevor Manuel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.