Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
3 ministers moet met banke praat oor Guptas
Atul Gupta en pres. Jacob Zuma by ’n krieketwedstryd op die Wanderers in 2012. Foto: Argief

Altesaam drie ministers is deur die kabinet opdrag gegee om met die banke te praat wat die Gupta-familie se onderneming Oakbay Investments se rekenings gestaak het.

Pravin Gordhan, minister van finansies, Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, en Mildred Oliphant, minister van arbeid, gaan met die banke praat, het Jeff Radebe, minister in die presidensie, Donderdagoggend op ’n mediakonferensie oor die kabinetsvergadering van 13 April gesê.

Dit is die einste drie ministers aan wie die Guptas briewe geskryf het om te vra dat hulle ingryp. Daar is ook ’n brief aan die presidensie gerig.

Dít het aan die lig gekom nadat ’n brief van Nazeem Howa, Oakbay se uitvoerende hoof, aan die maatskappy se werknemers aan die media gelek is nadat Varun en Atul Gupta, asook pres. Jacob Zuma se seun Duduzane, voorverlede week aangekondig het dat hulle uit Oakbay se direksie bedank.

Sedert sy aanstelling as minister verlede jaar was daar tergende vrae oor Zwane se beweerde bande met die Guptas.

Volgens Radebe is daar niks onbehoorliks daaraan dat drie kabinetslede met die banke gaan praat oor hul sake met ’n ander private maatskappy nie.

“Dit is ’n normale taakspan, wat die regering van tyd tot tyd aanwys,” het Radebe gesê.

“Dit is nie ’n ondersoek nie. Hulle gaan vergader om meer inligting te bekom.”

“Interaksie tussen die regering en die private sektor vind die hele tyd plaas.”

“Daar is niks buitengewoon hieraan nie,” het Radebe gesê.

Hy kon egter nie ander voorbeelde noem van waar kabinetslede namens ’n private maatskappy by ’n ander maatskappy “inligting bekom” nie.

Pravin Gordhan

Die kabinetsverklaring lui: “Die kabinet slaan ag op die vier banke wat kennis gegee het dat hulle die rekenings van ’n maatskappy gaan sluit. Die kabinet het waardering daarvoor dat die banke voorwaardes het, maar dié optrede kan voornemende beleggers wat sake in Suid-Afrika doen, afskrik. Die kabinet bekragtig die ministers van finansies, arbeid en minerale hulpbronne om ’n konstruktiewe gesprek te open met die banke om ’n blywende oplossing vir dié kwessie te vind.”

Radebe kon nie meer lig werp op watter beleggers deur die banke se optrede afgeskrik kan word nie.

Gevra of dit nie daarop neerkom dat die regering banke boelie nie, het hy gesê: “Daar is groot seuns en dogters by die banke, hulle kan nie geboelie word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.