Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
3 nuwe wette moet vroue help beskerm – Cyril

’n Jaar ná die moord op drie vroue wat skokgolwe deur die land gestuur het, is drie kritieke stuks wetgewing om vroue te beskerm, nou by die parlement ingedien.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief geskryf.

Ramaphosa sê hy het ná die moorde op Uyinene Mrwetyana, Leighandre Jegels, Jesse Hess en verskeie ander vroue beloof daar sal strenger teen geslagsgeweld opgetree word.

“Ek het destyds onderneem om bestaande wetgewing rakende geslagsgeweld te hersien,” skryf die president.

Die kabinet het op ’n aksieplan besluit en R1,6 miljard is opsygesit om iets te doen aan veral geweld teenoor vroue en kinders.

Pres. Cyril Ramaphosa

Die begrotings van verskeie staatsdepartemente is aangepas om onder meer vroue wat sulke geweld oorleef het, by te staan, en bewusmakingsprogramme te skep. Daar is klem gelê op die bemagtiging van vroue, wetgewing is verbeter en die strafregstelsel is versterk, skryf Ramaphosa.

“Met die driestuks wetgewing wat die afgelope week aan die parlement voorgelê is, kom die regering die beloftes na wat hy verlede jaar gemaak het.

“Die tragiese realiteit is dat talle oorlewendes van geslagsgeweld vertroue in strafregstelsel verloor het. Dit sluit in die uitdagings om beskermingsbevele te bekom, die gebrek aan behoorlike voorwaardes vir die toestaan van borgtog aan verdagtes, en die polisie wat traag is om sake van gesinsgeweld te ondersoek,” sê die president.

Die drie wette wat nou voor die parlement dien, is die Wysigingswet op die Strafreg (seksuele oortredings en verwante sake), die Wysigingswet op Kriminele Reg en Verwante Sake, en die Wysigingswet op Gesinsgeweld.

Die wysigings sluit in dat seksuele teistering in die toekoms as ’n oortreding beskou sal word, die omvang van die nasionale register van seksmisdadigers word uitgebrei, die howe sal voortaan sekere faktore in ag moet neem wanneer borgtog vir verdagtes oorweeg word, en minimum strawwe vir seksmisdade word neergelê.

Ek het destyds onderneem om bestaande wetgewing rakende geslagsgeweld te hersien.

Dit sal in die toekoms onder meer ook ’n strafregtelike oortreding wees as iemand kennis of die vermoede van gesinsgeweld teen ’n kind, mense met gestremdhede of ouer mense het, en dit nie by ’n maatskaplike werker of die polisie aanmeld nie.

Polisielede wat nie voldoen aan die vereistes van die wet nie, moet by die burgerlike sekretariaat van die polisie verkla word.

Die departemente van maatskaplike ontwikkeling, basiese en hoër onderwys en gesondheid, het kragtens die wysigings aan die wette sekere verpligtinge om slagoffers by te staan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.