Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
3 opsies op tafel om art. 25 van Grondwet te wysig

Drie opsies is op die tafel om art. 25 – die eiendomsklousule – van die Grondwet te verander om eksplisiet voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.

Die opsies is Woensdag op ’n werksessie van die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging van dié artikel in die Grondwet op die tafel geplaas.

Dié “grondwetlike dialoog” is gefasiliteer deur oudregter Johann van der Westhuizen wat 12 jaar lank in die konstitusionele hof gewerk het en destyds by die opstel van die Grondwet betrokke was.

Adv. Charmaine van der Merwe, senior parlementêre regsadviseur, het twee opsies aan die komitee voorgehou, terwyl Floyd Shivambu, EFF-onderleier, ook een op die tafel geplaas het.

Van der Merwe se twee opsies is:

* Dat subartikels (2)(b) en (3) gewysig word deur daarvoor voorsiening te maak dat die hof mag bepaal dat geen vergoeding betaalbaar is in die geval van onteiening van grond vir die doelwit van grondhervorming nie. Subartikel (3) moet gewysig word deur die woorde “waar vergoeding betaalbaar is” in te voeg; en

* ’n Nuwe subartikel (4A) wat lui: “Nieteenstaande die voorgenome vereiste vir vergoeding in subartikels (2), (3), en (4), mag grond onteien word sonder die betaling van enige vergoeding as ’n geldige opsie vir grondhervorming ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede te herstel.”

’n Bykomende moontlikheid in die vorm van ’n aparte klousule is ook deur Van der Merwe voorgestel wat vloei uit die voorstelle van die presidensiële raadgewende paneel oor grondhervorming. Ingevolge hiervan moet die omstandighede in nasionale wetgewing uiteengesit word waaronder eiendom sonder vergoeding onteien mag word.

Shivambu se opsie lui dat eiendom sonder vergoeding onteien mag word vir openbare doelwitte of in die openbare belang.

Die EFF stel ook voor dat subartikel (3) vervang word om te lui dat die staat die bewaarder van al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne is insluitend grond, mineralebronne en water. Relevante wetgewing moet goedgekeur word om die staat se rol as bewaarder van die land se natuurlike hulpbronne duidelik te definieer en in konteks te plaas.

Dr. Mathole Motshekga, komiteevoorsitter, het gesê die wenslikheid of andersins die wysiging van die Grondwet is deur die vorige parlement gehanteer. Die parlement het bevind dit is wenslik om die Grondwet te wysig en die ad hoc-komitee is aangestel om aan die wysiging te werk. “Ons gaan nie terug nie, ons beweeg vorentoe. Ons is ’n verlengstuk van die parlement, ons kan nie die mandaat van die parlement verander nie.”

Dit het gekom nadat Dave Steward, uitvoerende direkteur vir die Sentrum vir Konstitusionele Regte, gevra het of hul teenwoordigheid in die komiteesitting impliseer dat hulle op die een of ander manier die noodsaaklikheid en die wenslikheid aanvaar om die Grondwet te wysig.

“Is ons net hier om die manier te bespreek waarop die artikel gewysig mag word, of is daar plek in die konsultasie vir mense en organisasies wat onversetlik gekant is teen die wysiging van art. 25?”

Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, het gesê sy het ’n dilemma omdat die uitnodiging nie duidelik was dat die fokus van die bespreking slegs oor die bewoording van die wysigings sou wees nie. “My enigste mandaat van Agri SA is dat ons gekant is teen enige wysiging van art. 25, want waar ons staan, sien ons die enigste rede vir só ’n wysiging as ’n politieke een wat ons nie dink die probleem gaan oplos wat ons wil oplos nie en ons dink nie dit is goed vir die land nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.