Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
30 N-Kaapse plase vir onteiening is 'net ’n deel '

Die sowat 30 plase in die Noord-Kaap wat die ANC reeds vir onteiening sonder vergoeding in die provinsie geïdentifiseer het, is slegs ’n gedeelte van die plase wat deel uitmaak van ’n grondoudit wat die party nou doen.

Die Noord-Kaapse ANC het vandeesweek in ’n kort verklaring gesê hy is in die proses om ’n oudit te doen van alle private grond, sowel as grond in staatsbesit.

Dit word gedoen sodat die grond spoedig aan mense oorgedra kan word wanneer die proses afgehandel is om art. 25 van die Grondwet te wysig om die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

Dit sal veral aan jong mense gegee word wat belangstel om die grond te bewerk.

Naledi Gaosekwe, ’n ANC-woordvoerder, het gesê die ouditproses het in Januarie/Februarie begin en is nog nie afgehandel nie.

’n Taakspan is aangestel om die proses te hanteer en die sowat 30 plase, wat deur Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC, op Twitter bekend gemaak is, is slegs ’n deel daarvan, het sy gesê.

Van die plase op die lys sluit in wilds-, vee- en wynplase by onderskeidelik Petrusville, Kakamas, Kanoneiland en Keimoes. Daar is ook gemengde boerderye en soutplase by Douglas, Hopetown, Warrenton en Hartswater.

Volgens Gaosekwe sal die ANC met al sy strukture, insluitend sy alliansievennote en belanghebbendes, onder wie boere, praat om te verseker dat die ingewikkelde proses glad verloop.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het in ’n videoboodskap aan boere gesê die lys is nie ’n amptelike lys van enige departement in die Noord-Kaap of die provinsiale regering nie.

Van die plase op die lys sluit in wilds-, vee- en wynplase by onderskeidelik Petrusville, Kakamas, Kanoneiland en Keimoes.

“Dit het op ’n politikus se Twitter-rekening verskyn wat dit vir persoonlike politieke propaganda gebruik. Ons moet die beginsels wat geld, verstaan.

“Onteiening sonder vergoeding word deur die Grondwet en Onteieningswet beskryf. Die huidige Grondwet en Onteieningswet maak nie voorsiening vir onteiening sonder vergoeding weens loongeskille of geskille oor verblyfreg, soos wat op die lys uitgestippel word nie,” sê Jansen.

Volgens hom is dit belangrik “dat ons weet wat ons regte in die omstandighede is. Die lys maak dit ook baie moeilik vir landbou om die welwillendheid te behou ten opsigte van grondhervormingsaksies wat nou in die Noord-Kaap en landbou plaasvind.”

Jansen het gesê dit is ironies dat die meeste van die plase reeds suksesvolle bemagtigingsprojekte het en die lewensomstandighede van baie mense reeds al baie verbeter het.

“Ek wil u verseker dat Agri Noord-Kaap ons lede sal bystaan as daar iets verder hiervan sal kom sodat ons lede hul grondwetlike en wetlike reg ten opsigte van hul eiendom kan uitoefen.

“Ek wil ook boere adviseer om nie die oorlog in die media of sosiale media te voer nie en dat dit dalk raadsaam sal wees as u sê dat u sal reageer wanneer dit in ’n amptelike hoedanigheid op u bestel word.”

Hy het ook gesê hulle sal so goed as wat hulle kan, aandag gee aan die lys en ’n regsmening kry oor hoe om dit te hanteer.

“Ek kan u verseker dat die Noord-Kaap se departemente nie bewus is hiervan nie, dat dit nie ’n amptelike dokument is nie en dat dit nie deur die Noord-Kaapse regering uitgereik is nie.”

Meer oor:  Grondonteiening  |  Anc  |  Onteiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.