Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
31 Januarie spertyd vir kommentaar oor onteiening

Suid-Afrikaners het tot einde Januarie om kommentaar te lewer op ’n konsepwysigingswetsontwerp om die Grondwet te verander om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.

Die 18de Wysigingswetsontwerp op die Grondwet, waarin die voorgestelde wysigings vervat is, is die afgelope week deur die parlementêre ad hoc-komitee bespreek wat daarmee gemoeid is.

Die voorstelle is dat:

• Art. 25 (2) (b) gewysig word om dié paragraaf in te sluit: “Op voorwaarde dat in ooreenstemming met subartikel (3A) mag ’n hof, waar grond en enige verbeteringe daarop onteien word vir die doelwitte van grondhervorming, bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.”

• Subartikel (3) gewysig moet word om te lui: “Die vergoedingsbedrag soos beoog word in subartikel (2) (b) en die tyd en manier van enige betaling, moet billik en regverdig wees, ’n gelyke balans reflekteer tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word en alle relevante omstandighede in ag neem, insluitend –”; en ook dat:

Die konsepwysigingswetsontwerp.

• “Nasionale wetgewing moet, onderhewig aan subartikels (2) en (3) die spesifieke omstandighede uiteensit waarin ’n hof mag bepaal dat die vergoedingsbedrag nul is.”

Die ad hoc-komitee het Vrydag ’n beroep op die publiek gedoen om geskrewe voorleggings op die voorgestelde wysigings in te dien.

Dit kom ondanks Agri SA en sekere opposisiepartye, waaronder die DA, VF Plus en ACDP, wat vroeër vandeesweek beswaar gemaak het oor die publikasie van die konsepwysigingswetsontwerp oor die feestyd.

Agri SA het Donderdag sy teleurstelling uitgespreek oor die besluit van die komitee om “nie voorsiening te maak vir behoorlike konsultasie en openbare deelname” nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het Vrydag in ’n verklaring gesê die organisasie onderneem om alle regs- en ander remedies toe te pas om wysigings teen te staan.

“Ons verwerp enige wysiging aan die Grondwet, in teks of interpretasie, wat die grondwetlike orde ondermyn. Saam met vele ander organisasies in die burgerlike samelewing sal ons die sakesektor mobiliseer om die ondermyning van eiendomsreg teen te staan en, waar nodig, om te keer.”

Geskrewe voorleggings moet die komitee nie later as 31 Januarie bereik nie. Voorleggings en navrae moet gerig word aan mnr. V. Romaano, Pleinstraat 90, Kaapstad, 8000, of per e-pos gestuur word aan section25@parliament.gov.za.

Afskrifte van die konsepwysigingswetsontwerp kan bekom word van mnr. V. Ramaano by 021 403 3820 of 083 709 8427 of by www.parliament.gov.za.

’n Afskrif van die konsepwysigingswetsontwerp is hier beskikbaar. .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.