Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
4 ANC-streke in KZN moet nog leiers kies

Vier van die 11 ANC-streke in KwaZulu-Natal het nog nie hul leierskapsverkiesings gehou wat al lankal afgehandel moes wees nie.

Mdumiseni Ntuli, provinsiale sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal. Foto: Argief

Dié sluit onder meer die Moses Mabhida-streek in Pietermaritzburg en die General Gizenga Mpanza-streek in Tongaat in.

Mdumiseni Ntuli, provinsiale sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, het Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie in Durban gesê die verkiesings sal moontlik eers vroeg volgende jaar plaasvind.

Ntuli sê die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC in KwaZulu-Natal het Ace Magashule, sekretaris-generaal (SG) van die ANC, versoek dat Luthuli-huis, die ANC-hoofkantoor, toestemming gee dat die nuwe elektroniese lidmaatskapstelsel wat onlangs deur die party in gebruik gestel is, tydelik opgeskort word en die ou stelsel van vorms vir die verkiesings gebruik word.

“As dit toegelaat word, kan ons hopelik die verkiesings teen Desember afgehandel hê. Die SG sal vandeesweek nog vir ons ’n antwoord gee,” het Ntuli gesê.

Intussen bestudeer ANC-amptenare in die provinsie nog ’n verslag oor die meer as R11 miljoen wat die Umvoti-munisipaliteit in Greytown die afgelope finansiële jaar bestee het vir die persoonlike veiligheid van Thami Ngubane, die burgemeester, en sewe amptenare.

Die veiligheidsmaatreëls is glo ingestel nadat hulle doodsdreigemente ontvang het en ’n amptenaar doodgeskiet is.

Die meer R11 miljoen is sowat 5% van Umvoti se totale begroting.

Die ANC in KwaZulu-Natal het vroeër gesê Ngubane moet verduidelik of hy en die stadsraad met hul besluite in die beste belang van die gemeenskap en die ANC optree.

Die IVP, die amptelike opposisie in KwaZulu-Natal, het in ’n verklaring geëis Ngubane moet afgedank word in die lig van die swak dienslewering, armoede en werkloosheid in dié munisipaliteit.

* Die PUK het op sy pas afgelope vergadering sy steun aan die mense van Eswatini (vroeër Swaziland) uitgespreek en gesê die ANC steun hulle “in hul strewe na demokrasie”.

Eswatini grens aan die noorde van KwaZulu-Natal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.