Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
4 nuwe beddens vir ministers kos meer as R87 000

Sowat R45,8 miljoen van belastingbetalers se geld is in die afgelope boekjaar bestee aan die instandhouding van ministers se luukse ampswonings in Kaapstad en Pretoria, sê Thulas Nxesi, minister van openbare werke.

Hy het dit bekend gemaak in ’n parlementêre antwoord wat onlangs deur die parlement uitgereik is.

Thulas NxesiFoto: Daily Sun

Op nog ’n parlementêre vraag van dr. Malcolm Figg, ’n DA-LP, erken Nxesi ook dat verskeie ministers tans soveel as R1,2 miljoen agterstallig is met hul huurgeld om in dié huise te kan woon. Die huur vir die huise beloop tussen R988,90 en R1 200 per maand.

Nxesi sê die instandhoudingskoste vir dié huise in Pretoria het gesamentlik sowat R14,5 miljoen in 2017/ 2018 beloop.

Dit sluit nie die R7,9 miljoen in wat belastingbetalers van April 2018 tot dusver ook vir instandhouding moes opdok nie.

Volgens hom word instandhouding vir ministeriële huise in Pretoria op ’n daaglikse basis gedoen, terwyl dié in Kaapstad deur ’n diensverskaffer gedoen word.

“Die totale bedrag vir instandhouding vir die huise in Kaapstad in die 2017/ 2018-boekjaar het R31,2 miljoen beloop en sowat R14,4 miljoen vanaf 1 April 2018 tot op hede.”

Volgens hom is sowat R9,3 miljoen ook in 2015/2016 bestee om net drie van die huise op te knap. Dit het onder meer die bou van grensmure, hutte vir veiligheidswagte en die aanbring van kameras, monitors en elektroniese heinings ingesluit.

Nxesi sê ook dat die ministeriële huise in Pretoria saam tans R116,7 miljoen werd is en dié in Kaapstad R824,7 miljoen.

Op ’n vraag of meubels in dié tyd vir die huise aangekoop is, het Nxesi gesê daar is vir van die huise in Gauteng twee koningingrootte beddens en twee enkelbeddens teen sowat R87 381 aangekoop.

Die probleem duur egter voort. Ministers is altyd gewillig om saam te werk om hul maandelikse huur te kan betaal.
Thulas Nxesi, minister van openbare werke

Sedert 1 April 2018 is vier olieverwarmers vir gesamentlik R9 770 aangekoop.

Meubels wat volgens Nxesi in dié tydperk vir die Kaapse huise aangekoop is, is onder meer ’n televisiestaanplek, tafels, eetkamer- en kombuisstoele, rusbanke, beddens, ’n yskas en ’n vrieskas. Nxesi sê die koste daarvan was nog nie beskikbaar toe hy sy antwoord ingedien het nie.

Oor die agterstallige huurgeld van R1,2 miljoen, het Nxesi gesê dit is weens ’n “stelselprobleem”.

“As ministeriële huise toegeken word, dien die departement dokumente in wat die betaalbare (huur-) bedrae aandui vir die kliëntdepartemente wie se verantwoordelikheid dit is om die aftrekorders vir die betrokke huurgeld van ministers en adjunkministers se maandelikse inkomste te aktiveer.”

Volgens hom het sommige departemente dit egter ná herhaalde aanmanings steeds nie gedoen nie.

Nxesi sê dat hy die kwessie in die verlede reeds met betrokke kabinetslede bespreek het en dit was betreklik suksesvol.

“Die probleem duur egter voort. Ministers is altyd gewillig om saam te werk om hul maandelikse huur te kan betaal. Die probleem wat ons moet oplos, het te doen met die stelsel sodat ons kan verseker dat die maandelikse huur sonder verdere probleme ingesamel word.”

Meer oor:  Thulas Nxesi  |  Belastingbetalers  |  Instandhouding  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.