Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
80% van Gauteng-begroting is vir gesondheid, onderwys

Byna 80% van Gauteng se begroting vir die 2021-’22-boekjaar is aan gesondheid en onderwys toegewys.

Nomantu Nkomo-Ralehoko, LUR vir finansies, het Donderdag haar provinsiale begrotingsrede in die provinsiale wetgewer in Johannesburg gelewer.

Nkomo-Ralehoko sê die totale begroting van R142,6 miljard neem fiskale konsolidasiemaatreëls in ag, terwyl dit substantiewe hulpbronne bied om die pandemie te bestry en ekonomiese ontwikkeling en werkskepping te bevorder.

R56,505 miljard is aan gesondheid en R53,458 miljard aan onderwys toegeken.

Nkomo-Ralehoko sê Gauteng is daartoe verbind om sy onderwys- en gesondheidsresultate te verbeter, misdaad te bekamp en die kwesbaarste inwoners teen armoede en honger te beskerm.

Sy sê gegewe die beperkte fiskus en die verwoestende uitwerking van die Covid-19-pandemie op die ekonomie, moet ’n daadwerklike poging aangewend word om vermorsing te beperk.

R714,42 miljoen is toegeken aan die premier se kantoor en R791,06 miljoen aan die provinsiale wetgewer.

R5,88 miljard is toegeken aan maatskaplike ontwikkeling, R8,68 miljard gaan aan paaie en vervoer, en R581,7 miljoen aan samewerkende regering en tradisionele sake.

So word begroting aangewend (opsomming):

.
.

Onderwys:

Uit die onderwysbegroting van R53,458 miljard sal R1,3 miljard gebruik word om graad-R-onderrig uit te brei na alle openbare laerskole, en R185,8 miljoen vir die intervensieprogram by hoërskole. Dié program is vir die monitering van die toepassing van die kurrikulum sodat onderpresterende skole gehelp kan word om beter te presteer.

R1 miljard is begroot vir ondersteuningsmateriaal vir leerlinge en onderwysers, waarvan R2,1 miljoen vir leerbronne vir inligtingskommunikasie en -tegnologie aangewend sal word.

Gesondheid:

Uit die gesondheidsbegroting van R56,505 miljard word R1,8 miljard bewillig vir die omvattende gesondheidsreaksie op die Covid-19-pandemie vir ’n inentingsprogram by 330 persele, volhoubare poste rakende die pandemie en vir die finansiering van verpleër-agentskappe.

Nog R1,8 miljard gaan vir die verskaffing van primêre gesondheidsorgdienste.

R1,5 miljard word toegeken aan mediese nooddienste om noodreaksietye in stedelike en landelike gebiede te verbeter, en ’n bedrag van R452,1 miljoen word toegeken aan beurse en opleidingsgeleenthede. Dié toekenning is daarop gemik om die beskikbaarheid van verpleegkundiges, dokters en ander gesondheidswerkers te verbeter.

Maatskaplike ontwikkeling:

R5,8 miljard is bewillig om armoede, werkloosheid en ongelykheid in Gauteng die hoof te bied. R555 miljoen word toegeken vir die skooluniform-projek, R526,3 miljoen vir die Dignity Packs-program en R132,2 miljoen vir kospakkies om arm huishoudings te bedien.

R705 miljoen is toegeken vir kinder- en jeugsorgsentrums.

R165,5 miljoen word toegeken vir die voorkoming van geslagsgeweld.

Ander besteding:

Menslike nedersettings begroot R1,1 miljard vir die verbetering en opgradering van informele nedersettings oor die hele provinsie.

Die departement van paaie en vervoer sal R64,4 miljoen bestee aan taxi-ondersteuning en R2,4 miljard aan padinfrastruktuur.

Die departement van gemeenskapsveiligheid kry R32,9 miljoen vir die opskerping van polisiëring. ’n Bedrag van R32,2 miljoen word bewillig vir die oprig van ’n bevelsentrum om doeltreffende en effektiewe polisiëring moontlik te maak en R62,9 miljoen word toegewys om die implementering van die Gautengse geslagsgeweld-reaksieplan te koördineer en te monitor.

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling bewillig R116,9 miljoen om stedelike en landelike voedselproduksie te bevorder om voedselsekerheid vir kwesbare gemeenskappe te verseker en die landbousektor uit te brei.

Meer oor:  Nomantu Nkomo-Ralehoko  |  Gauteng  |  Gesondheid  |  Begroting  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.