Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
9de verdoemende beslissing teen OB

Die beslissing van die hooggeregshof in Pretoria dat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), ’n gedeelte van die regskoste vir die saak oor haar verslag oor die Estina-suiwelprojek in die Vrystaat self moet betaal, is die tweede kostebevel teen haar waarvoor sy self sal moet pa staan.

Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Sy het ook ’n kostebevel in haar amptelike hoedanigheid as OB in dié saak teen haar.

Dit is boonop die negende verdoemende hofbeslissing teen haar sedert sy in Oktober 2016 deur oudpres. Jacob Zuma in dié pos aangestel is.

Regter Ronel Tolmay het Donderdagoggend gelas Mkhwebane moet 7,5% van die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) se regskoste in die saak uit haar eie sak betaal.

Sy moet 85% van die koste in haar amptelike hoedanigheid as OB betaal.

Dit volg nadat Tolmay vroeër vanjaar verklaar het Mkhwebane se verslag oor die Estina-suiwelprojek was ongrondwetlik en ongeldig omdat sy in haar plig versuim het om die suiwelprojek na behore te ondersoek en daaroor verslag te doen.

Die DA en Casac het in 2018 die aansoek teen Mkwebane ingedien omdat sy in haar verslag nie die rol van Ace Magashule, as destydse premier van die Vrystaat, en ander hooggeplaaste provinsiale politici ondersoek het nie.

Regter Sisi Khampepe en ’n meerderheid regters in die konstitusionele hof het op 22 Julie Mkhwebane se appèl teen ’n strafkostebevel van die hand gewys en saam met die hooggeregshof gestem dat sy persoonlik aanspreeklik gehou word vir 15% van die Absa/CIEX Reserwebank-hofgeding se regskoste.

Op 29 Julie het sy nóg ’n bloutjie in die hooggeregshof in Pretoria geloop toe regter Sulet Potterill bevind het Mkhwebane en die EFF (wat hom in dié saak by die OB geskaar het) moet alle regskoste betaal in die aansoek wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gebring het om Mkhwebane se regstellende aanbevelings op te skort totdat ’n hersieningsaansoek oor haar verslag oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) afgehandel is.

Sy moet 85% van die koste in haar amptelike hoedanigheid as OB betaal.

In dié verslag het sy bevind dat Gordhan die Grondwet en die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree deur die parlement te mislei oor ’n vergadering met ’n Gupta-broer én die “geheime eenheid” in die SAID.

Die regter het bevind dat Mkhwebane se remediërende aanbevelings in dié verslag “vaag, teenstrydig en/of sinneloos” is.

Sy het bevind Gordhan kan onherstelbare skade ly wat onomkeerbaar kan wees teen die tyd dat die hersieningsaansoek afgehandel is.

Meer oor:  Adv. Busisiwe Mkhwebane  |  Pretoria  |  Ob  |  Estina-Suiwelprojek  |  Kostebevel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.