Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC-kaders in SAUK: ‘Soos wie?’
Politiek by uitsaaier gekap

ANC-kaders in die SAUK? Waar?

Joyce Moloi-Moropa, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie, het gisteroggend op dié komitee se vergadering gesê sy weet nie van ANC-kaders wat in die SAUK ontplooi is nie.

Dit kom nadat Gavin Davis, DA-LP, gesê het die komitee moet praat oor kaders wat na bewering oor hul kwalifikasies lieg, maar nietemin in die SAUK ontplooi word om ’n faksie in die ANC te dien.

Die komitee het sy begrotingsoorsig- en aanbevelingsverslag bespreek, waarin onder meer

gesê word Faith Muthambi, minister van kommunikasie, moet nouer betrokke raak by die aanstelling van SAUK-raadslede.

Davis het gesê juis die teenoorgestelde moet gebeur omdat dié aanstellings verpolitiseer is.

Moloi-Moropa het gesê sy stem nie saam nie.

“Ek verstaan daar is probleme met mense wat aangestel is. Ons almal besef dat die SAUK skoongemaak moet word. Noukeurige oorsig moet deur die aandeelhouer (die minister van kommunikasie) uitgeoefen word,” het Moloi-Moropa gesê.

Davis het gesê daar moenie weggeskram word van die bewering dat mense wie se kwalifikasies verdag is, aangestel word om sekere faksies se belange te dien nie. “Ek hoop die komitee sal erken dat die regerende party se kaderontplooiing nie suksesvol is nie,” het Davis gesê.

Moloi-Moropa het gesê sy sal nie instem tot die bespreking nie. “Ek weet nie wie die kaders is nie.”

Maesela Kekana, ANC-LP, het gesê: “Dié verpolitisering van die portefeuljekomitee moet end kry. Ek raai enigeen aan wat dit wil doen om eerder na die Na-

sionale Vergadering te gaan.

“Wat comrade Davis, ekskuus, agbare Davis, doen, is politiekery.

“Hy wil aan ons vertel dat almal wat misluk van die ANC is.

“Ons moet dit nie eens toelaat nie. Hy moet gekeer word.”

Davis het gesê hy wil nie die komitee verpolitiseer nie.

“Die probleem is die SAUK is verpolitiseer.”

Joyce Moloi-Moropa, voorsitter van die portefeuljekomitee oor kommunikasie, eergister voor die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: Denvor de Wee
Gavin Davis, DA-LP en dié party se woordvoerder oor kommunikasie, op ’n vorige vergadering van die portefeuljekomitee. Foto: Lerato Maduna
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.