Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Alliansie trek laer om Blade Nzimande ná grappie oor studente
Blade Nzimande buite die parlement, waar hy onlangs betogende studente tevergeefs probeer toespreek het. Foto: Luigi Bennett

Die drieparty-alliansie het Maandag laer getrek om dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, te midde van eise dat sy kop moet rol.

Nzimande het onder skoot gekom vir sy hantering van die landwye #FeesMustFall-betogings en sy omstrede “students must fall”-grappie.

Studentebetogers het die afgelope week “Blade must go, Blade must fall” geskree en beide die ANC-jeugliga en die studenteorganisasie Sasco het die minister skerp gekritiseer.

Die ANC, SAKP en Cosatu het Nzimande egter verdedig.

Keith Khoza, ANC-woordvoerder, het gesê die ANC en die kabinet het steeds die volste vertroue in hom.

“Die kwessie wat ons sien uitrafel het, reflekteer nie op die minister nie.”

Dit is universiteitsrade se besluit oor verhogings wat studente ontevrede gehad het, het hy gesê.

“Dit sal agterbaks wees van enigiemand om die skuld op minister Blade te pak.”

Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, het gesê die persoonlike aanvalle op Nzimande is onregverdig en die SAKP sal in die openbaar standpunt inneem teen sulke aanvalle.

Ook Cosatu het gesê die studentebetogings, wat die land verlede week aan die brand gehad het, is nié Nzimande se skuld nie.

“Dié ding kan nie op ’n individu blameer word nie,” het Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, gesê.

“Die kabinet as geheel moet verantwoordelikheid aanvaar. As die tesourie nie meer geld vir hoër onderwys wil gee nie, kan Blade niks doen nie. Dit is opportunisties van mense om te sê hy moet afgedank word.”

Pamla het egter gesê Cosatu dink nie Nzimande het die oproer goed hanteer nie en sy “Students must fall”-grappie was in swak smaak.

Ná Collen Maine, president van die ANC-jeugliga, Nzimande en sy departement verlede week openlik gekritiseer het vir die hantering van die studentebetogings, het Sasco Maandag gesê sy lede is baie ontevrede met Nzimande.

“Ons is bekommerd oor die manier waarop hy dinge hanteer het. Vir die minister om te sê dit is nie ’n krisis nie, is vir ons baie problematies. Dit wys hy neem die saak nie ernstig op nie.”

Nzimande se kantoor het aan Netwerk24 gesê die minister gaan nêrens heen nie.

“Daar is geen rede vir hom om te bedank nie,” het Khaye Nkwanyana, Nzimande se woordvoerder, gesê.

“Die kwessie van stygende klasgelde is ’n institusionele saak. Die regering besluit nie op verhogings nie, dit is universiteite wat misluk het daarin om die saak te bestuur. Hulle het besluit op dubbelsyfer-verhogings sonder om die minister te raadpleeg.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.