Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Benny Ntlemeza sal waarskynlik Valke se nuwe hoof word’
Genl.maj. Benny Ntlemeza
Genl.maj. Johan Booysen
Lt.genl. Vinesh Moonoo

Die aanstelling van ’n nuwe Valke-hoof gaan fyntrap van die minister van polisie en kabinet verg om nóg ’n reeks hofsake te vermy.

Advertensies vir die pos wat lt.genl. Anwa Dramat voorheen beklee het, is Sondag gepubliseer. Die sperdatum is 10 Julie.

Genl.maj. Benny Ntlemeza, waarnemende Valke-baas, is die waarskynlikste opvolger van Dramat, het vier onafhanklike bronne met kennis van die kwessie gesê.

Ntlemeza het sedert sy aanstelling ook herhaaldelik in private vergaderings met sy kollegas gesê: “Ek sal nog lank hier wees. Julle het almal gedink ’n hofuitspraak sal my hier uit hê. Ek is steeds hier en sal hier bly,” het hy volgens die bronne gesê.

Maar Ntlemeza bied minstens twee ernstige probleme.

Die Polisiewet vereis dat die minister, in oorleg met die kabinet, ’n “geskikte en gepaste” persoon aanstel.

Die minister moet die kandidaat se “ervaring, pligsgetrouheid en integriteit” in ag neem.

Regter Elias Matojane van die hooggeregshof in Pretoria het Ntlemeza in Maart as ’n “leuenaar, oneerlik en sonder integriteit en eerbaarheid” beskryf.

Verder is daar steeds ’n bevel van dieselfde hof wat Ntlemeza se aanvanklike aanstelling nié erken nie omdat hy aangestel is terwyl Dramat ongrondwetlik geskors is.

Daarby het Ntlemeza nie die nodige speurervaring nie, het ’n bron gesê.

Minister Nathi Nhleko kan beslis verwag dat nie-regeringsorganisasies Ntlemeza se aanstelling in die howe sal toets. Nóg ’n moontlike kandidaat blyk lt.genl. Vinesh Moonoo, speurhoof, te wees.

Sy kantoor het onder meer die

Oscar Pistorius-ondersoek behartig.

Hy is ’n beroepspolisieman wat onder meer by die honde-eenheid gewerk het.

Maar Moonoo moet dalk eersdaags vrae van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) beantwoord oor sy noue vriendskap met beweerde sigaretsmokkelaars, verneem Beeld van senior Opod-amptenare.

Dit laat een kandidaat wat deur die bank as “die beste keuse” beskryf word: genl.maj. Johan Booysen, KwaZulu-Natalse Valke-hoof.

Booysen is egter ook die onwaarskynlikste kandidaat. Dís omdat hy “polities onaanvaarbaar” is, meen dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudie. “Booysen is die beste kandidaat vir dié pos. Maar hy het die president geïrriteer omdat hy sy vriende in KwaZulu-Natal ondersoek het. En dan is hy ’n wit man.”

Kollegas van Booysen het hom geloof as iemand met integriteit en die nodige ervaring. “Booysen is die beste kandidaat om ons leier te word. Hy het die ervaring en jy weet hy sal by jou staan as die moeilikheid kom,” het ’n senior bron in die Valke gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.