Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dan Roodt uitgestem
Hy weet self nie hoekom Front Nasionaal hom nie meer as onderleier wil hê
Dan Roodt

Hy is klaar met Afrikaner-politiek, het dr. Dan Roodt gesê nadat dit aan die lig gekom het sy party, Front Nasionaal (FN), het stil-stil van hom as onderleier ontslae geraak.

Roodt weet self nie hoekom hy uitgeskop is nie.

“Ek het einde verlede jaar besef my naam verskyn nie meer op die FN se omsendbriewe nie. Ek is ook nie meer na hul vergaderings genooi nie. Daar is nie redes verskaf waarom ek nie meer deel van die party se bestuur is nie,” het hy Donderdag gesê.

Roodt is die afgelope week ook daarvan beskuldig dat sy aktivisme vir mediese parool vir Clive Derby-Lewis geboemerang het.

“Dit is sy skuld dat Clive nie op mediese parool vrygelaat is nie. Hul protesaksies het net meer skade aangerig,” sê dr. Pieter Mulder, die leier van die VF+.

Roodt, wat sonder sukses namens Steve Hofmeyr ’n hofbevel teen die komediant Conrad Koch aangevra het, het onder die FN se vaandel verskeie protesaksies gereël. Die meeste daarvan is swak ondersteun.

Maar Roodt ontken dit het die saak skade berokken.

“Baie mense het van Clive vergeet en ons protesaksies het weer die land se oë op sy omstandighede gevestig,” sê hy.

Maar dit alles is nou agter hom. Voortaan, sê hy, gaan hy al sy energie wy aan sy uitgewery, Praag.

“Ek is ontnugter deur Afrikaner-politiek. Ek is klaar met Afrikaner-politiek.

“Ek gaan eerder my neus in boeke druk voordat ek dit weer in die politiek indruk,” sê Roodt.

Hy sê hy weet glad nie waarom hy uit die FN geskop is nie.

Hannes Engelbrecht, leier van die FN, sê Roodt is bloot nie weer as onderleier verkies nie. Hy sê hulle werk goed saam as aktiviste, maar Roodt het sy eie menings oor hoe dinge gedoen moet word.

“Ná die verkiesing het ons die party herstruktureer. Dit is nie net Dan wat deur die herstrukturering geraak is nie. Ek vermoed van ons lede het moontlik gevoel Dan verdeel sy aandag tussen die FN en sy webwerf Praag.”

Gay Derby-Lewis, Clive se vrou, het haar gedistansieer van die VF+ en die FN se uitsprake.

“Ek het niks met hulle te doen nie en wil geen kommentaar lewer nie,” sê sy.

Engelbrecht sê hulle sal nooit aanvaar dat hul betrokkenheid by Derby-Lewis en die roete wat hulle gevolg het, verkeerd was nie.

“Die meeste mense onder die ouderdom van 40 het nie eens geweet van hom nie. Ons aksies het ’n gesig aan iemand gegee wat al 20 jaar lank vergete in die gevangenis sit.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.