SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Politiek
Ellen slaag nie – Unisa
Sy was onsuksesvol met te veel modules vir diploma
Foto: Delywn Verasa, Mail&Guardian

Ellen Tshabalala, voorsitter van die SAUK-raad, se akademiese verslae by Unisa dui daarop dat sy nie ’n BCom-graad of nagraadse diploma in arbeidsverhoudinge kon verwerf het nie.

Beeld is in besit van afskrifte van Tshabalala se dokumente by Unisa. Sy het verlede jaar op die CV waarmee sy aansoek gedoen het om in die SAUK-raad aangestel te word, aangedui sy het dié twee kwalifikasies.

Rapport en City Press het op 13 Julie berig Unisa het ná ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting bevestig hy het geen bewys van Tshabalala se kwalifikasies nie.

Gavin Davis, DA-LP, het die volgende dag versoek dat die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie ondersoek instel.

Ellen Tshabalala se registrasie-besonderhede by Unisa.
Die Unisa-verslag vir die BCom-graad waarvoor sy ingeskryf het.
Die uitslae van die kursus in arbeidsverhoudinge.
Die boodskap by die uitslae van die ontwikkelingsprogram in arbeidsverhoudinge.
Wat ’n vinnige proses moes wees, is hopeloos te lank uitgere.
Gavin Davis, DA-LP

Die DA het verlede maand ook die dienste van die maatskappy Managed Integrity Evaluation (MIE) bekom om by die Nasionale Kwalifikasieregister na te gaan of Tshabalala dié graad wel het.

In dié “agtergrondondersoek” is bevind Tshabalala het in 1996 by Unisa vir ’n BCom-graad geregistreer, maar die “kwalifikasie is nie voltooi nie”.

Volgens die Unisa-gegewens is die kursus in Mei 1996 gekanselleer.

Sy het vroeër, in 1989, drie BCom-vakke gehad, waarvan een gekanselleer is, sy vir die een nie toelating tot die eksamen kon kry nie en die ander gedruip het.

’n Uitslagsertifikaat oor ’n “ontwikkelingsprogram in arbeidsverhoudinge” dui daarop dat Tshabalala net twee van die ses modules kon slaag, met 51% en 52%. Die sertifikaat lig haar in dat sy die kursus nie slaag nie omdat sy onsuksesvol was met soveel modules.

“Ons hoop egter dat u by u deelname aan die program gebaat het, en wens u alle voorspoed toe met u toekomsplanne,” lui die dokument.

Tshabalala kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.

Sy het op 14 Oktober, toe sy voor die komitee moes verskyn, maar suksesvol om uitstel gevra het, aan joernaliste gesê sy kan nie “ja of nee” antwoord op die vraag of sy kwalifikasies het nie.

Een van die redes hoekom Tshabalala tydens die proses om uitstel gevra het, was omdat sy nie haar dokumente van Unisa kon bekom nie.

Sy moet op 3 Desember voor die komitee moet verskyn.

Intussen wil die komitee wéér vra dat sy geskors word hangende die ondersoek. Volgens Davis is haar skorsing noodsaaklik om verdere vertragings te verhoed.

“Wat ’n vinnige proses moes wees, is hopeloos te lank uitgerek,” het Davis gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.