Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Joernalis in ‘losgemaal met withemde’ buite parlement: gedwing om fotos uit te vee

Sowat twee uur voordat pres. Jacob Zuma Woensdag sou begin om vrae van LP's in die parlement te antwoord, is Media24-joernalis Jan Gerber buite die parlement deur vyf ongeïdentifiseerde mense in "wit hemde" gedwing om foto's wat hy van openbare-orde-voertuie geneem het, uit te vee.

Die vyftal het hom rondgeruk.

Hier is Gerber se weergawe van gebeure:

"Vyf lede van die polisie se BBP-eenheid het my omstreeks 12:45 voor die parlement se ingang hardhandig na die grond gedruk en my kamera ná 'n struweling geneem om foto's wat ek van hulle geneem het, uit te vee.

"Ek het gaan foto's neem van die agt voertuie van die polisie se oproereenheid wat langs die parlement se ingang gestaan het en waar 'n paar mans, meesal in swart broeke en wit hemde, rondgestaan het.

"Met die terugloopslag na die media se parlementêre kantore in Pleinstraat 100 het ek mans in wit hemde en swart broeke onder 'n polisievlag gesien en meen toe dit kan ook 'n lekker foto wees. Hulle het nie saamgestem nie.

"Ek was aan die ander kant van Pleinstraat en twee van die mans het oor die straat geloop en gevra hoekom ek foto's neem. Ek het gesê ek is 'n joernalis en 'n foto van mense in wit hemde en swart broeke by 'n polisievlag is nuuswaardig, sou daar later enigiets gebeur.

"Hulle wou, nou redelik aggressief, weet wie my toestemming gegee het om foto's te neem - en het gesê ek mag nie foto's van hulle neem nie en moet dit uitvee. Ek het geweier en volgehou as joernalis het ek 'n reg om foto's te neem. Hulle het my kamera probeer gryp en ek het dit probeer beskerm.

"In die proses het hulle my grond toe gepluk. Daar was egter nie 'n skeidsregter om 'n strafskop toe te ken omdat die losgemaal 'laat val' is nie . . .

"Hulle het my kamera by my afgeneem en wou die foto's uitvee, maar het nie geweet hoe nie en wou my toe na hul kantoor, wat hulle as die BBP-kantoor geïdentifiseer het, neem. Ek het gedink dit is dalk beter om die situasie te vermy, gegewe dat ek nog later vanmiddag 'n storie oor pres. Zuma se vraesessie moet doen. 

"Ek wou ook verhoed dat ek al die foto's op my geheuekaart, wat ek pas geneem het van die oproereenheid se agt voertuie voor die parlement, verloor. Ek het toe die foto's uitgevee en hulle het my laat gaan met net 'n krapmerk aan my regter-boarm. My kamera blyk okei te wees.

"'n Rukkie later het 'n uniform-polisieman na my gekom waar ek 'n paar meter weg, by Pleinstraat 100 se ingang, 'n sigaret gerook het, en my sonbril wat in die proses op die sypaadjie beland het, vir my gegee."

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.