Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Los Steyn se standbeeld uit, sê Jonathan Jansen
‘Ons vernietig en breek nie hier nie’
Prof. Jonathan Jansen Foto: Mlungisi Louw

Dit is nie nodig om die standbeeld van pres. M.T. Steyn op die Kovsie-kampus in Bloemfontein ter wille van transformasie af te breek net omdat hy wit was nie.

Só het prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se gekose komitee vir onderwys gesê.

Jansen, senior leiers van die universiteit en studenteleiers het die komitee Woensdag oor van sy transformasieprogramme ingelig. Hy het toe sommer ook vir hulle gesê hoe sleg politici hulle in die parlement gedra en ’n slegte voorbeeld stel.

Komiteelede het die UV geloof oor sy transformasie en hoe hy die kampus vir meer studente toeganklik maak.

Die rektor het gesê die universiteit het van sy simbole wat aanstoot gegee het, verander. ’n Voorbeeld is die naamsverandering van die manskoshuis JBM Hertzog na Beyers Naudé.

Jansen het oor Hertzog onder meer gesê volgens ’n bekende historikus was “hy meer ’n wit heerssugtige as ’n Afrikaner-nasionalis” en het hy die land baie skade berokken.

Die konserwatiewe gemeenskap buite die kampus was volgens hom woedend oor die koshuis se naamsverandering.

“Hulle verstaan nie simboliese herstel is deel van transformasie nie. Dit beteken egter nie die oom (M.T. Steyn) hier voor moet afgebreek word net omdat hy wit was nie.”

Jansen het gesê daar kan nie net swart simboliek op die kampus wees nie, “ons broers en susters” van ander kulture moet ook erken word.

“ ’n Mens kan goed nie net afbreek omdat dit nie deel van jou of jou kultuur en taal is nie. Dit is wat my betref – en ek wil dit reguit aan die Nasionale Raad van Provinsies stel – onaanvaarbaar.

“Ons vernietig en breek nie hier goed nie . . . Ons leer die studente rede is beter as woede.”

Jansen het gesê toe hy ’n jong student was, wou hy ook dinge wat nie lyk soos hy nie, afbreek. Soos hy ouer geword het, het hy vinnig besef die toekoms van Suid-Afrika hang af van hoe sy burgers die land tesame verander.

Die komiteelid Leigh-Ann Mathys (EFF) was duidelik nie tevrede met Jansen se verduideliking van ’n inklusiewe model wat simbole betref nie en het benadruk die sielkundige impak van simbole moenie onderskat word nie.

Sy het ná die verrigtinge aan Volksblad gesê die standbeelde, asook name van geboue en koshuise, op die kampus verteenwoordig nie die land se kollektiewe geskiedenis nie.

Dit is volgens haar veral ’n probleem wanneer die sogenaamde Reitz-walgvideo, wat destyds hier gemaak is, in gedagte gehou word.

Volgens haar moet gekyk word na die bydraes van die verskillende geskiedkundige karakters wat op die kampus verteenwoordig word. Was dit positief of negatief? Die studente moet hier ’n belangrike bydrae lewer.

Cathy Dlamini (ANC), nog ’n komiteelid, was ook ongemaklik oor die standbeeld van pres. M.T. Steyn en het ná die sessies gesê die UV moet in voeling bly met studente se gevoelens oor die simbole op die kampus.

Herman Groenewald (DA) het gesê hy is nederig nadat hy gehoor het wat die UV alles doen.

“Die universiteit het die leiding in Suid-Afrika geneem en stel ’n voorbeeld aan ons . . .”

Lynette Zwane (ANC), komiteevoorsitter, het oor die universiteit gesê: “Jy sien transformasie soos jy aankom.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.