Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mamiki Qabathe as nuwe speaker in Vrystaat ingehuldig
Waarnemers sê die skommeling van die kabinet is maar net nog ’n rookskerm om LUR’e wat met bedrog verbind word, te beskerm en na ’n ander pos te verskuif in ’n poging om aanspreeklikheid vry te spring.

Die Vrystaatse LUR vir landbou, Mamiki Qabathe, word Woensdag as die nuwe speaker in die wetgewer ingehuldig, het Thabo Meeko, provinsiale ANC-woordvoerder, gesê.

Qabathe vervang die ontslape Sisi Mabe wat verlede jaar ná ’n lang siekte dood is.

Die speaker sal voor die aanvang van die begrotingsrede, wat deur Elzabe Rockman, LUR vir finansies, gelewer word, ingehuldig word.

Meeko het ook bevestig dat die Vrystaatse premier, Ace Maga­shule, in die komende weke sy kabinet sal skommel.

Waarnemers sê die skommeling van die kabinet is maar net nog ’n rookskerm om LUR’e wat met bedrog verbind word, te beskerm en na ’n ander pos te verskuif in ’n poging om aanspreeklikheid vry te spring.

Volgens ingeligtes word die LUR vir gesondheid, dr. Benny Malakoane, se kop geëis.

Dit is nog nie duidelik wie by Qabathe sal oorvat as LUR vir landbou nie.

Meeko sê Qabathe, wat ook die adjunk-sekretaris van die ANC in die provinsie is, is weens haar lang verbintenis met die party gekies.

“Die speaker van die wetgewer is ’n posisie met baie mag en ons het ’n senior lid binne die party gesoek om die pos te vul,” verduidelik Meeko.

Wouter Wessels, Vrystaatse VF+-wetgewerleier, sê Qabathe toon nie verdraagsaamheid teenoor opposisiepartye en wittes nie.

“Dit is betreurenswaardig dat die aanstelling van die speaker geskied op grond van senioriteit in die ANC. Die kantoor van die speaker moet ’n onbevooroordeelde politikus wees wat die reëls en prosedures van die wetgewer ken,” het Wessels gesê.

Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, sê hulle is bekommerd oor Qabathe se aanstelling, aangesien sy nie die wetgewer se rol of mandaat verstaan nie. “Ons hoop sy sal die onafhanklikheid en regverdigheid kan toon wat die ander speakers nie kon nie,” het Jankielsohn gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.