Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Nkandla: Jacob Zuma se regte is geskend, sê Nathi Nhleko
Nkandla

Pres. Jacob Zuma se regte is deur die ondersoeke na Nkandla geskend en hy moet nie ’n dooie duit betaal nie.

Nathi Nhleko, minister van polisie, het Donderdagmiddag in ’n perskonferensie van net onder die twee uur aangekondig hy het bevind die verbouings wat die Openbare Beskermer genoop het om te bevind dat Zuma en sy familie onbehoorlik baat gevind het by die aanbouings, was almal noodsaaklike sekuriteitsverbeterings.

Oor die skending van Zuma se regte het hy gesê: “Dit is ongehoord wêreldwyd dat ’n president se privaatheid só geskend word.”

Lees ook:

■ ​Nkandla: Die groot gewag​

■ ​Só het dit gebeur: Jacob Zuma nie aanspreeklik vir Nkandla-geld​

Nhleko, wie se verslag in wese die OB se bevindings hersien, het gesê: “Die bevinding deur die

OB sê dit is nie sekuriteitsmaatreëls nie. So ons moes eers vasstel of dit sekuriteitsmaatreëls is.”

Hy het nie wette aangehaal wat daarop dui dat hy die mag het die OB se besluit te hersien nie.

In die verslag van 51 bladsye het Nhleko heelwat tyd daaraan afgestaan om te verduidelik hoekom die omstrede sogenaamde “sekuriteitsmaatreëls” soos die swembad, amfiteater, kraal en besoekersentrum wel sekuriteitsmaatreëls is.

Die swembad, of “vuurpoel” soos Nhleko voortdurend daarna verwys het, is die beste meganisme om brande by Nkandla te bestry, het hy gevind nadat brandkenners, onder meer van die Nkandla-munisipaliteit, geraadpleeg is.

’n Foto en video van die “vuurpoel” is vertoon en dit lyk soos ’n tipiese swembad wat in menigte middelklas-woonbuurte aangetref sal word.

Hy het gesê die eerste nut van die “vuurpoel” is vir brandbestryding en die tweede nut is vir ontspanning. Hy het gesê hy weet nie of mense al in die “vuurpoel” geswem het nie.

Nhleko het gevind dat die besoekersentrum ’n “nodige sekuriteitsmaatreël” is omdat Zuma die staatshoof bly selfs wanneer hy tuis is en steeds amptelike besoeke ontvang. Dié sentrum is nodig sodat die amptelike besoeke met die nodige protokol en veiligheid geskied, beweer Nhleko.

Die amfiteater is glad nie ’n amfiteater nie, het Nhleko – wat die definisie van ’n amfiteater op Wikipedia opgesoek het – gesê. Dit is eerder ’n grondretensiemuur, ’n versamelplek tydens noodgevalle en ’n plek waar veiligheidspersoneel vergader, en daarom ’n sekuriteitsmaatreël.

Die nuwe kraal is nodig omdat die diere in die oorspronklike kraal met die alarmstelsel ingemeng het, en daarom ’n sekuriteitsnoodsaaklikheid.  

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.