Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Planne wys ‘hoe min ANC weet’
Johannes Möller.

Dit is skokkend hoe min die ANC van boerdery weet.

Só het Agri SA Woensdag gereageer op planne deur die ANC om grondbesit te beperk.

Die party het Woensdag ná sy driedaagse bosberaad in Pretoria aangekondig dat ’n besluit aanvaar is om “grondbesit tot 12 000 ha of twee plase te beperk vir natuurlike en alle vorme van juridiese persone”.

Die ANC het volgens Sapa ’n beroep gedoen op meer “besliste en ingrypende” leierskap van die regering ten opsigte van grondherverdeling.

Gwede Mantashe, ANC-hoofsekretaris, het op dieselfde nuuskonferensie gesê buitelanders sal ook verbied word om grond te besit, maar hulle sal deur middel van huurpag toegang tot grond hê.

Johannes Möller, president van Agri SA, het in reaksie gesê twee plase van 12 000 ha in die Kaapse wyngebied, veeboerdery in die Noord-Kaap of in die suikergebied van KwaZulu-Natal is nie dieselfde nie. “Dit is eintlik skokkend hoe min die ANC van boerdery weet. Enige party wat iets van landbou weet, sal nie so iets doen nie,” het Möller gesê.

Hy het daarop gewys dat die ANC self weet hoe belangrik voedselsekuriteit is.

“Oor die algemeen is skaalvoordele in Suid-Afrika belangrik. Dit beteken hoe groter die skaal, hoe doeltreffender is die produksie. Dit is belangrik vir voedselsekuriteit omdat groter boere ’n groter bydrae tot voedselsekuriteit maak. Ons het al herhaaldelik gesê dat om grondplafonne in te stel nie die antwoord is nie,” het Möller gesê.

Thomas Walters, DA-LP, het die plan bestempel as “emosioneel en populisties” wat daarop gemik is om die “moderne natuurlike ontwikkeling” van die landbou te kniehalter.

“Om die konsentrasie van kommersiële landbou te beperk is soos om die ontwikkeling van grootskaalse landbou vir die goedkoper produksie van kos vir die mense te beduiwel,” het hy gesê.

Grondplafonne druis volgens Walters in teen wêreldwye tendense. “Hoe groter die eenhede, hoe laer is die operasionele koste per eenheid en hoe meer voedsel kan geproduseer word.”

Hy het voorts daarop gewys dat die kommersiële landbou nie naastenby sy volle produksiekapasiteit bereik het nie. “Dié soort besluite keer dat kommersiële momentum ten volle ontwikkel,” het hy gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.