Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Rasse vertrou mekaar meer’
Dié wat nie aanpas nie ‘uitgerook’ – instituut

Rassiste word al hoe meer ontmasker en in die openbaar aangevat namate Suid-Afrikaners al hoe beter integreer, meen prof. Fanie du Toit, uitvoerende hoof van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (IJR).

Die instituut het gister sy jaarlikse versoeningsbarometer bekend gemaak te midde van ’n golf van moontlik rasgemotiveerde aanvalle en rassistiese retoriek wat daagliks gehoor word.

Die barometer dui desondanks aan dat sosialisering tussen rassegroepe met 13 persentasiepunte verbeter het die afgelope tien jaar – tot 23,5%.

Wantroue van ander rassegroepe het tussen 2003 en 2013 gedaal met 12,5 persentasiepunte tot 28,1%. Du Toit het ná die bekendmaking in Kaapstad gesê Suid-Afrikaners word al hoe meer gewoond aan integrasie en “mense wat nie aangepas het nie word uitgerook”.

Hy het gemaan teen “heethoofde” wat die positiewe groei van die afgelope 20 jaar kan verwoes as hulle toegelaat word om veld te wen. Du Toit het wel ook aangedui dat laerinkomstegroepe grootliks van integrasie uitgesluit word.

“Dis die groot vraag: Hoe kan ons die 40% van mense insluit wat buite staan en kyk – diegene wat bykans geen interraskontak het nie?

“Hulle word nie net ekonomies uitgesluit nie, maar ook sosiaal.”

’n Belangrike faktor wat versoening beïnvloed, is swart mense wat bereid moet wees om te vergewe en wit mense wat bereid moet wees om te erken hulle het ’n bevoorregte verlede gehad.

Die kloof in Suid-Afrikaners se geskiedkundige geheue is steeds groot.

Hoewel ’n gemiddelde van 76,4% van Suid-Afrikaners saamstem dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, is daar ’n groot verskil tussen hoe swart mense en wit mense daaroor voel.

Onderskeidelik 80% en 53% meen dit was ’n misdaad.

Dié twee rassegroepe het wel nader aan mekaar beweeg wanneer hul wantroue in politici in ag geneem word.

53,8% van swart mense het verlede jaar aangedui hulle vertrou die land se leiers (62,5% in 2003), teenoor 27,2% van wit mense (20,5% in 2003).

Toe hy gevra is oor die uitwerking van pres. Jacob Zuma se presidentskap daarop, het Du Toit geantwoord: “As jy betroubare

leiers het, is die kans op versoening groter. Daardie vertroue het onder Zuma skerp gedaal.”

Kim Wale, samesteller van die barometer, het gesê hul bevindings skets ’n kontrasterende prentjie. Hoewel daar byvoorbeeld groter integrasie is, het die behoefte aan ’n enkele Suid-Afrikaanse identiteit die afgelope dekade gedaal. Net 55% van die bevolking staan nou ’n enkele nasionale identiteit voor.

Dit is nodig om ’n meer genuanseerde begrip van nasionale identiteit te ontwikkel “sodat daar ruimte is vir diversiteit binne eenheid”, het sy gesê.

Suid-Afrikaners word al hoe meer gewoond aan integrasie en mense wat nie aangepas het nie word uitgerook.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.