Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘SA moenie net China en Rusland koester’
Mmusi Maimane, DA-leier. Foto: LEÁNNE STANDER

KAAPSTAD. – Suid-Afrika moet nie sy Europese handelsvennote die rug toekeer deur slegs bande met China en Rusland te koester nie.

Dít was die waarskuwing van Mmusi Maimane, DA-leier, Maandag op ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge (SAIIR) oor die land se buitelandse beleid.

“ ’n Buitelandse beleid is daar om ’n land se eie belange te bevorder. As die VSA nies, kry die res van die wêreld ’n verkoue en China hoes baie in Suid-Afrika se rigting. Europa en Amerika is tans ons grootste handelsvennote, en dit sou dwaas wees om hulle die rug toe te keer, soos wat ons nou klaarblyklik doen.”

Maimane het gesê die interna­sionale gemeenskap het alle re­spek vir Suid-Afrika verloor.

“Pres. Jacob Zuma en sy kabinet stel meer belang in hoeveel verteenwoordigers die land in wêreldorganisasies het. Kyk na die Brics-vennootskap: Ons politieke bande met China en Rusland hou vele bedreigings vir ons ekonomie in, maar tog is ons daar. China se ekonomie verswak al verder, nes ons eie geldeenheid. ’n Kernkragprojek van R1 miljard met Rusland gaan ons ekonomie heeltemal sink,” het hy gesê.

Hy meen ook die land se buitelandse beleid is lelik geknou deur die onlangse skandaal rondom pres. Omar al-Basjir van Soedan.

“Toe ons regering Al-Basjir die land laat uitglip het, is ek seker die hele land was geskok. Die regering het sy eie Grondwet verontagsaam, asook dié van die Internasionale Strafhof.

“Ons buitelandse beleid het sedert oudpres. Thabo Mbeki verswak. Dit is nou op sy swakste, met pres. Zuma wat ’n vaag en ondoeltreffende beleid wil implementeer,” het hy gesê.

“Reg oor die wêreld was die vraag op almal se lippe: Hoe kon dit so moeilik vir Suid-Afrika wees om die regte ding te doen? Hoe kon ons so ver wegbeweeg van ’n buitelandse beleid wat menseregte so voorop gestel het?”

Die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria het die regering op 15 Junie beveel om Al-Ba­sjir, wat in Suid-Afrika was vir die Afrika-Unie-beraad, aan te hou totdat hy uitgelewer kon word. Al-Basjir word gesoek op aanklagte van volksmoord, oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Soedan.

Toe die volbank sy bevel op 15 Junie uitgereik het, het Al-Basjir reeds met Soedan se presidensiële straler uit die land vertrek. Die Internasionale Strafhof het lasbriewe vir sy inhegtenisneming uitgereik.

“Wanneer jy geen morele waardes oor het nie, word dit moeilik om met sekerheid besluite te neem. Die man wat tans ons regering lei, het ons van alle morele waarde ontroof,” het Maimane gesê.

Onder ’n DA-regering sal die regering ’n nasionale raad vir internasionale betrekkinge hê waar landsburgers, nieregeringsorganisasies en die private sektor insette oor die buitelandse beleid kan lewer, het hy gesê.

“Ons sal buitelandse betrekkinge versterk om ’n groot speler in die wêreld te word.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.