Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Solidariteit en AfriForum trek streep in die sand
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, aan die woord by die krisisberaad by die Voortrekkermonument. Foto: Herman Verwey
Meer as 1 500 mense het Solidariteit se krisisberaad Dinsdag by die Voortrekker Monument in Pretoria bygewoon. Afrikanerselfstandigheid is ook op die beraad bespreek. Foto: Herman Verwey
Van die deelnemers aan Dinsdag se krisisberaad by die Voortrekkermonument. Foto: Theana Breugem

Solidariteit wil die Afrikaner na selfstandigheid en moontlike selfbeskikking lei.

Meer as 1 500 lede van Solidariteit en sy susterorganisasies, ondersteuners en afgevaardigdes van tientalle Afrikaanse belangegroepe het Dinsdag op ’n

“krisisberaad” by die Voortrekkermonument ’n mosie aanvaar dat ondersoek ingestel word na “gebiedsgebonde selfstandigheid”.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het in sy toespraak in ’n stampvol saal by die Voortrekkermonument gesê die Grondwet maak voorsiening vir “selfbeskikking” en die lewensvatbaarheid daarvan moet ondersoek word.

Volgens hom misluk die grondwetlike en staatkundige bedeling van 1994 en moet alternatiewe ondersoek word.

Lees ook: Hanlie Retief gesels met Flip Buys

Sy standpunt is deur Kallie Kriel, bestuurshoof van Afri­Forum, beaam. Hy het in sy toespraak gesê alle moontlikhede, van kultuurgebiede tot “eie grondgebiede”, moet ondersoek word. Sy adjunk, Cornelius Jansen van Rensburg, het gewaarsku die regering “moet goed regeer of ons regeer onsself”.

Dit verteenwoordig ’n koersverandering vir Solidariteit en sy vennote, wat in die verlede uitsluitlik klem op die uitbou van gemeenskapsorganisasies binne die land se staatkundige bestel gelê het. Hierdie was die eerste keer dat ’n voorstel oor staatkundige verandering geopper is.

Selfbeskikking en ’n moontlike Afrikaner-volkstaat was voor die 1994-verkiesing ’n warm besprekingspunt, maar het met die uitsondering van die Noord-Kaapse dorpie Orania nêrens beslag gevind nie.

’n Hooggeplaaste in Solidariteit se bestuur het bevestig die organisasie is besig om sy rug styf te maak teen die regering en dat hy toenemende onrustigheid aan die regterkant van die politieke spektrum probeer akkommodeer.

“Hoewel die Grondwet in art. 235 voorsiening maak vir selfbeskikking, het dit tot dusver geen aandag gekry nie. Dit is ’n omstrede begrip weens bepaalde politieke konnotasies en sal baie omsigtig hanteer moet word,” het Buys gemaan.

“Dit ís egter in die Grondwet en regverdig ’n behoorlike ondersoek na die lewensvatbaarheid daarvan omdat ons graag alle moontlike grondwetlike ruimtes op meriete wil oorweeg.”

Die beraad het ’n mosie onder die opskrif “Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme” aanvaar om ’n taakspan te versoek om voorstelle oor “gebiedsgebonde selfstandigheid” te bekyk.

Buys het gesê Afrikaner­selfstandigheid – wat sterk hulporganisasies op elke gebied insluit – is die Afrikaner se “vyfde waagstuk” ná die Groot Trek, die stigting van die Boererepublieke, die oorlog teen Brittanje, die vestiging van Afrikaans en apartheid. Dié stap word gedoen omdat onafhanklikheid van die staat “nie nou prakties haalbaar is nie”.

Regeer ons goed of ons regeer onsself.
Cornelius Janse van Rensburg

Solidariteit – en die Afrikaner – gaan hom egter nie teen die regering opstel nie, maar gaan sentralisering wel teenstaan.

Sprekers het herhaaldelik klem gelê op die noodsaak vir die Afrikaner om in beheer van sy eie sake te wees. Kriel het onder meer geëis dat Afrikaners ’n deel van belastinggeld kry om na Afrikaanse onderwys én monumente om te sien.

Groter selfstandigheid word volgens Buys genoodsaak weens die sneller agteruitgang van die staat. Die tyd het gekom om “moeilike besluite” te neem “wat nie langer uitgestel kan word nie”, het hy gesê.

“Die feit dat sommige mense nog nie hierdie verval raaksien nie omdat hulle op Eerstewêreld-eilande leef wat nie van die staat afhanklik is nie, verander niks aan die feit van ’n mislukkende staat nie,” het hy gesê.

Hy het verskeie krisisse uitgelig, insluitend die regering se aanhang van uitgediende ideologieë, die feit dat hy nie ’n moderne land kan regeer nie en ’n heersende demografiese krisis. Afrikaners word ook toenemend beskou as “tweedeklas-burgers” met ’n regering wat téén hulle regeer.

’n Taakspan onder leiding van Buys is aangewys wat voorstelle sal ondersoek om groter selfstandigheid vir die Afrikaner te bewerkstellig, insluitend ’n ondersoek na moontlikhede rondom selfbeskikking. Die taakspan sal bygestaan word deur ’n adviesraad onder voorsitterskap van prof. Koos Malan, verbonde aan die Universiteit van Pretoria en die organisasie Regslui vir Afrikaans.

’n Opvolgberaad word vir 10 Oktober vanjaar beplan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.